Update
HESSEQUA NUUS - Hessequa-munisipaliteit het 'n persverklaring uitgereik op navrae ontvang oor die slote wat op sypaadjies gegrawe word vir die lê van veselkabels en onderhandelinge wat met inwoners gevoer word oor die oprigting van midblokpale op privaat eiendom in Riversdal.
Didi Budricks, kommunikasiebeampte vir Hessequa-munisipaliteit, verduidelik die diens word deur die Electronic Communications Act en die Radial Development Policy gereguleer.
"Die lewering van die diens word ingevolge die betrokke wetgewing en beleid aan diensverskaffers en spesialiste in die veld oorgelaat om internetkonnektiwiteit te verseker."
Sy sê munisipaliteite moet internetkonnektiwiteit ingevolge die betrokke wet en beleidsdokument verseker, met inagneming van munisipale administratiewe prosesse.
"Vir dié doel het Hessequa ingevolge 'n raadsbesluit toegesien dat elke diensverskaffer 'n volledige aansoek indien waarin die roetes van kabels en oorhoofse lyne aangedui moet word en dat hulle ondernemings vir die herstel van enige infrastruktuur moet gee."
Vesel word nie op die munisipale begroting oorweeg nie as gevolg van finansiële implikasies, asook enige toekomstige instandhoudingskoste.
Volgens Budricks is die eerste optiese veselkabels wat geïnstalleer is, ingevolge die provinsiale breëband-inisiatief van die Wes-Kaapse regering gedoen en het ten doel om alle staatsinstellings deur middel van internet met mekaar te verbind. Die diens is deur die provinsiale regering gefinansier.
"Normaalweg word gepoog om alle kabels ondergronds te lê. Die munisipaliteit laat geensins die plant van pale op openbare grond toe nie," verduidelik Budricks.
Diensverskaffers besluit volgens hul eie beplanning waar hulle die kabels ondergronds in die onderskeie dorpe in Hessequa gaan lê en doen dienooreenkomstig aansoek.
"Hulle kan met privaat grondeienaars onderhandel ten opsigte van toegang tot eiendomme vir die oprigting van midblokpale en is die munisipaliteit nie 'n party tot gemelde onderhandelinge nie."
Die rede vir midblokpale en oorhoofse geleidings is meestal omdat dit goedkoper infrastruktuur is en die internetdiens goedkoper aan verbruikers kan voorsien.
"Eienaars het die reg om toestemming te verleen dat die pale op hul erf opgerig word en het hulle nie die bure of munisipaliteit se goedkeuring nodig nie. Indien 'n eienaar voel dat sy regte deur enige handeling van 'n aangrensende eienaar benadeel word, moet die gepaste remedies tot hul beskikking oorweeg word."
Persone wat ontevrede is oor die ligging van pale moet dit direk met die diensverskaffer opneem.
Vorige artikel: Munisipaliteit verduidelik oor veselkabels
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'