STILBAAI NUUS - Fisantekraal het sy 365ste boom gekry. Inwoner Thinus van Heerden, wat 'n jaar gelede onderneem het om elke dag een inheemse boom of fynbos in dié natuurreservaat te plant, het op 11 Mei die laaste een, 'n Kaapse boekenhout, in die grond gesit.
Hy sê dit was vir hom heerlik om die projek te doen: "Ek hou daarvan om naby die natuur te leef en kan nie genoeg dankie sê vir die voorreg om dit te kan uitleef nie."
Hy is duidelik opgewonde oor die laning van meer as 'n kilometer lank. "Die plante is almal besig om te vestig en elke dag as ek na hulle kyk, sien ek hoe hulle groei. Ek kan nie wag om alles oor so drie jaar wanneer die boompies bo die fynbos uitkom, te sien nie. Die fynbos se mooi in die winter en die bome se mooi in die lente en somer gaan vir 'n volle jaar se prag op verskillende tye sorg."
Van Heerden reken hy het nie veel struikelblokke gehad nie, want selfs die molle begin nou rondom die plante beweeg.
Hy het elke dag 'n foto van die nuwe aanplanting op die inwoners se WhatsApp-groep gesit en so kon almal in die spesiale projek deel. Hul betrokkenheid was vir hom baie spesiaal. Toe dinge einde se kant toe begin staan, het hy besluit om die laning bietjie op te ruim sodat die plante mooi kan uitstaan: "Toe ek my oë uitvee het Louis Hiemstra van die ander kant af ook begin skoonmaak. Dit wys jou die inwoners se gesindheid."
Volgende op sy agenda is sy eie tuin: "Met grendeltyd nog in volle gang kan my groentetuin weer 'n beurt kry. Dié tyd het my gedwing om aan selfvoorsiening aandag te gee. Wat 'n voorreg om dit wel te kan doen. Dis juis nou tyd vir groente soos ertjies, uie en blomkool. Plante maak die lewe mooi om ons en laat ons die skepping op 'n daaglikse basis waardeer."
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'