Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Baie bekende inwoner wat jare lank op Riversdal gewoon het, Anna de Vos, word op 13 November 90 jaar oud.
Aan die begin van 1970 het sy, saam met haar man Kallie en drie jong kinders, Adri, Japie en Wimpie na Riversdal verhuis. Hier het sy vir 33 jaar gewoon.
Kallie het by die plaaslike afdelingsraad gewerk en is in 1990 op Riversdal oorlede, waar hy ook begrawe is. Al drie die kinders het die plaaslike skole bygewoon waar hulle dan ook matriek aan Hoërskool Langenhoven suksesvol aflê.
Anna het in die besigheidswêreld belang gestel omdat sy op haar vorige dorp, Williston, 'n kafee- en restaurantbesigheid, asook 'n baba- en kinderwinkel besit en 'n nuwe vrouehaarsalon geopen wat sy self bedryf het.
Met hulle verhuising verkoop sy al drie hierdie besighede sodat sy op haar nuwe tuisdorp kan voortgaan om 'n sakevrou te wees.
Op Riversdal koop sy weer 'n kafee- en restaurantbesigheid en begin sy 'n baba- en kinderwinkel, sowel as die eerste bloemiste in die dorp. As bloemiste word sy deel van Interflora sodat sy blomme kon uitvoer.
Na die verkoop van die bloemiste, open sy 'n materiaalwinkel wat sy met groot sukses bedryf. Sy sluit haar sakeloopbaan af met die koop van die vroueboetiek, Anna se Boetiek in Kerkstraat.
Hierdie winkel bedryf sy vir 12 jaar suksesvol voor sy dit net voor haar aftrede verkoop.
Na 'n besige sakeloopbaan tree sy af en verhuis in September 2003 na Huis La Belle in Bellville, waar sy tot vandag nog woon. Sy geniet steeds goeie gesondheid en dank die liewe Vader vir 90 geseënde jare saam met familie en vriende.
Vorige artikel: Bekende oud-Daller word 90
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'