RIVERSDAL NUUS - Hessequa-munisipaliteit het vinnig gereageer op die stormseeskade en reeds op Sondag 17 September met opruimaksies begin.
Die onstuimige see het groot skade aangerig en veral Jongensfontein en Stilbaai het lelik deurgeloop.
Die munisipaliteit sê in 'n verklaring hy het alle dienste wat deur die onweer belemmer is - water, riool en elektrisiteit - spoedig herstel.
Hulle sê voorts daar is gelukkig geen skade aan infrastruktuur by die munisipale karavaanparke in Gouritsmond, Witsand, Stilbaai en Jongensfontein nie.
Inspeksies is op Maandag 18 September gedoen om die omvang van die skade te bereken en volgens die munisipaliteit geniet infrastruktuur prioriteit.
Vergaderings is ook met verskeie rolspelers gehou om opvolgaksies en hulpverlening te bespreek.
Hessequa-munisipaliteit het onderneem om alle stormskade vóór die feesseisoen te herstel en doen 'n beroep op inwoners en sakelui om hande te vat en te help met die herstel van veral infrastruktuur wat voorheen deur die publiek opgerig en onderhou is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’