RIVERSDAL NUUS - Die nie-regeringsorganisasie Mosaic, wat hulself beywer om vir vroue wat aan geslagsgeweld en mishandeling blootgestel word 'n veilige hawe te bied, het besluit dit is tyd dat hulle hul dienste verder as net Heidelberg en Albertinia aanbied.
Dié organisasie wil sy dienste na Riversdal uitbrei. Tydens 'n diensdeelge-leentheid op Maandag 16 Oktober in die Martin Johnson-saal in Riversdal is die planne aan verskeie rolspelers en aspirante vennote, waaronder Hessequa-munisipaliteit, die plaaslike polisie, die departemente justisie, gesondheid, maatskaplike dienste en ook plaaslike aktiviste en vrywilligers wat met slagoffers gemoeid is voorgelê.
Nagenoeg 70 rolspelers, waarvan die meerderheid vroue was, het die verrigtinge bygewoon.
Onder die aanwesiges was Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, verskeie raadslede, kapt. Mervyn Zana, Riversdal Vispolhoof, sers. Christiaan Jantjies, Riversdal mediabeampte, asook Mariette Jonck, Riversdal-landdroshofbestuurder.
Die verrigtinge is deur Thembani Dyule, Mosiac-hoofbestuurder, gefasiliteer wat ook as programbestuurder opgetree het. Drie vroue, Anna Pietersen, 'n plaaslike traumaberader en vroueregte aktivis, sers. Eveline Pienaar, self 'n slagoffer van geslagsgeweld wie se verhaal op die gewilde TV dokumentêr Op Seer Se Spoor verskyn het, en Patricia Gungaluza, nog 'n slagoffer van Albertinia, het hul stories met die aanwesiges gedeel.
Lauren Green van Mosaic het met haar goue stem die gehoor in vervoering gehad. Verskeie aspekte van geslagsgeweld is tydens kort dramastukke uitgebeeld deur lede van die Albertinia- en Heidelberg Mosaic-sentrums.
Riddles het tydens sy toespraak die munisipaliteit se volle ondersteuning aangebied en ook die Mosaic-lede en al die ander instansies teenwoordig aangemoedig om nooit op te hou met hul goeie werke nie. "Ek waardeer jul onbaatsugtige dienste aan die mees kwesbaarste inwoners vanoor ons streek."
Die groep rolspelers pronk hier saam met Hessequa-burgermeester, Grant Riddles (hurkend vierde van links).
Dyule het die hoop uitgespreek dat die uitbreiding na Riversdal egter gouer as later in plek sal wees aangesien die nood so groot is.
Pienaar, veral, het met haar storie van die aanwesiges tranerig gehad toe sy hulle meegedeel het dat hoewel sy verskeie kere deur haar eggenoot trompop geskiet is, is sy nie 'n slagoffer van geslagsgeweld is nie, maar liewer 'n oorlewende.
"Moet asseblief nie stilbly nie; my stilswye het amper my lewe geëis. Weerhou julle van skindery en kritisering, maar poets liewer mekaar se juwele blink," het sy tot beklemtoon. Sy is staande toegejuig.
Nicky Johannes, 'n plaaslike koördineerder van Mosaic, het die aanwesiges hartlik bedank vir hul bywoning asook hul ondersteuning vir die uitbreiding van die broodnodige dienste aan slagoffers van die soort geweld.
Die aanwesiges is met 'n heerlike ete asook 'n geskenkpakkie ná die afsluiting bederf.
Van die gaste wat nie-regeringsorganisasie Mosaic se aanbieding in Riversdal bygewoon het.
Die gaste sit in afwagting op die heerlike ete wat voorgesit is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’