RIVERSDAL NUUS - Molenrivier Primêr se koor is op pad na die groot verhoog! Hierdie talentvolle groep van 12 leerders, onder leiding van dirigent Mandy Eksteen en afrigter Ravic Fielies, het onlangs deurgedring tot die nasionale ronde van die SASCE-koorkompetisie.
Die Molenrivier-kamerkoor het eers aan die streekkompetisie in Riversdal deelgeneem, waar hulle met hul suiwer stemme beïndruk het.
Daarna het hulle hul talent gaan wys in Kaapstad tydens die provinsiale ronde, en nou is hulle op pad Johannesburg toe, waar die nasionale kompetisie op 1 Julie plaasvind.
Die koor bekoor gehore met hul uitvoering van die klassieke lied Early One Morning, en dra met trots die kultuur en gees van hul skool en gemeenskap uit.
"Ons is ongelooflik trots op elke kind.
Hierdie is nie net 'n musikale reis nie, maar 'n lewensveranderende geleentheid," sê Cynrol Saayman, skoolhoof van Molenrivier.
Hy voeg by: "Hulle wys wat moontlik is met harde werk, passie en spanwerk."
Die gemeenskap ondersteun die koor se deelname met groot entoesiasme, en daar is reeds planne aan die gang om geld in te samel vir vervoer, verblyf en etes.
Enige bydraes van die publiek of plaaslike besighede sal met groot en opregte waardering ontvang word.
Molenrivier sing nie net note nie - hulle sing vir 'n droom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’