STILBAAI NUUS - Tydens die imbizo wat die Stilbaai Gemeenskappolisiëringforum Woensdagaand 26 Februarie gehou het, het Adjudant-Offisier Morné D'Emiljo misdaad statistiek terugvoering gegee oor die tydperk April 2024 tot einde Januarie vanjaar.
AO D'Emiljo is die sigbare polisiëring bevelvoerder van Stilbaai polisie en hy kon trots sê dat, behalwe vir kommersiële misdaad, alle ander misdaad 'n daling getoon het.
Dit is te danke aan die harde werk van die manne en vroue in blou, met die ondersteuning van die getroue buurt- en plaaswaglede van Stilbaai, Jongensfontein en Melkhoutfontein.
'n Bron van kommer is egter die styging in kommersiële misdaad en dit word toegeskryf aan internetbedrog. Lede van die gemeenskap betaal toenemend groot bedrae geld oor die internet aan mense wat hulle skaars ken asook onbetroubare web adresse.
Mense deel ook te maklik persoonlike inligting oor die internet.
Sy raad is dat as jy onseker is rakende 'n betaling moet jy dit nie doen voordat jy die transaksie kan verifieer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’