Gallery Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Sport binne die Eden-sportraad se bedieningsgebied het ‘n groot hupstoot gekry om weer in verskillende kodes deel te neem, toe 36 sportfederasies befondsing van die Wes-Kaapse Regering ontvang het.
Die Wes-Kaapse minister van sport en kultuur, Anroux Marais het Woensdag, 23 September in Riversdal die tjeks met ‘n totale waarde van net meer as R1.5 miljoen aan die federasies oorhandig.
Marais het aan die sportmanne en –vroue, asook bestuurslede gesê sy is baie positief dat sport binne die Eden-sportdistrik weer tot sy normale norm sal terugkeer. Sy het egter gemaan dat elke betrokkene se bydrae bepalend sal wees vir verdere finansiële en logistieke hulp.
Van die stappe om geld te bespaar en die Covid-19 pandemie se verspreiding te verhoed, sluit in die afstel van enige sporttoekennings in 2020, en slegs agt groot byeenkomste vir die tydperk 30 Oktober 2020 tot 21 Maart 2021 is goedgekeur.
Fotogalery: Sportfederasies kry finansiële hupstoot
Kyk 'n video hieronder:
Hierdie byeenkomste is die Highgate Interprovinsiale Biathlon kampioenskap (5-6 Februarie), Outeniqua Rolstoelwedren (13, aternatiewelik 20 Februarie), SA-vlak 2 Aquatics (21 Maart), Nasionale Skopbokskampioenskap (21 Maart), Wes-Kaapse Swem-lewensredding (21 Februarie), Wes-Kaapse Laser-Run-kampioenskap (7 Februarie), SA Kushengel-kampioenskap (datum sal aangekondig word) en die SA Nasionale Toutrekkampioenskap (30-31 Oktober 2020).
Lees meer aanlyn en in Suid-Kaap Forum.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'