STILBAAI NUUS - Die nuwe kwartaal was ook die eerste skooldag vir die nuwe skoolhoof van Melkhoutfontein Primêr, Graeme Cuttings.
Ná die aftrede van Ruby Flores aan die einde van Desember 2022 het Reginald Baker as skoolhoof waargeneem en die leisels bymekaargehou vir die eerste twee kwartale.
Cuttings is vuur en vlam en het sy eerste paar dae op 'n drafstap begin.
Die 53-jarige Graeme Cuttings het in die Paarl grootgeword en sy onderwysdiploma aan die Athlone Onderwyskollege in die Paarl verwerf. Sy nagraadse studies het hy by Universiteit Stellenbosch voltooi.
Hy begin sy onderwysloopbaan by Esselenpark Primêr in Worcester en was daar vir 17 jaar. Daarna het hy vir 11 jaar by Laerskool Worcester-Oos skoolgehou waarna hy vir drie jaar by Lorraine Primêr in Rawsonville was. 'n Bolander in murg en been wat nou sy passie in die Suid-Kaap kom uitleef.
Graeme is getroud met Lizelle en hulle het twee seuns wat albei in die brandweer is - die oudste een in Amerika en sy jonger broer in Worcester.
Hulle is ywerige kampeerders en het al die jare in Stilbaai kom kamp. Die omgewing is dus nie onbekend nie en dit is maar weereens 'n bewys dat as jy eers in Stilbaai vakansie gehou het, raak dit later jou permanente tuiste.
Cuttings sê dat hy 'n absolute passie het vir onderwys en hy streef daarna om kinders se horisonne te verbreed.
Sy motto is dan ook: "Om deur opvoeding die lewe van ander te verbeter en om die gemeenskap en die wêreld op 'n beter vlak te plaas as wat ons dit gevind het."
In die Boland was Graeme baie betrokke by sport en het op laerskool, hoërskool en ook klubvlak afgerig, meestal rugby. In die skoolstrukture was hy betrokke by atletiek op provinsiale sowel as nasionale vlak en hy hoop om dit hier te kan voortsit.
Ten slotte sê Cuttings hy hoop om sy passie vir die onderwys en sport hier in die Hessequa, en veral by Melkhoutfontein Primêr, te kan uitleef.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’