Update
STILBAAI NUUS - Die VGK in Melkhoutfontein se kerkraadsvroue het Saterdag 13 Mei 'n Moedersdag-spogtee (high tea) vir die moeders van Melkhoutfontein gehou.
In hierdie onseker tye van beurtkrag, die swak ekonomie en stygende pryse het hulle gevoel dat daar iets daadwerkliks gedoen moet word om op 'n tasbare wyse die moeders op te beur en te vereer.
Hulle het ook besluit om hierdie spoggeleentheid Saterdag aan te bied sodat die moeders Sondag by hulle geliefdes kan wees.
Daar is hard gewoel en tweehonderd kaartjies is verkoop. Nie al die moeders kon dit bywoon nie, maar vir hulle is wegneempakkies voorberei.
Die gemeenskapsaal in Melkhoutfontein is pragtig opgemaak, so ook die tafels, want dit was immers 'n formele gedoente. Die dames was pragtig geklee en duidelik in die beste wat hulle klerekaste kon bied.
Moeders in gesellige luim.
Die tafels het gekreun onder al die heerlike eetgoed en daar was iets vir elke smaak. Koesisters en koek het meegeding met die southappies, te veel om op te noem.
Sonja Margerison, bekende kunstenaar van Stilbaai, het 'n praatjie gelewer en het mamma-wees geïllustreer met stories uit haar lewe.
Muriel Clark het dan ook heel gepas 'n gedig spesiaal vir die mammas voorgelees.
Daar is ook danskompetisies aangebied, wat natuurlik vir groot pret gesorg het. Sommige mammas sou sekerlik Sondagoggend met stywe spiere uit die bed geklim het.
Hierdie geleentheid was ook 'n fondsinsameling vir die gemeente se pastorie-boufonds en daarom wil die gemeente al die borge uit hulle harte bedank vir hulle bydraes. Daarsonder sou hierdie dag nie kon plaasvind nie.
Mammas gaan mal op die dansbaan.
Sonja Margerison geniet die heerlike teemaaltyd.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’