RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike stasiegebou gaan daagliks met rasse skrede agteruit, maar daar is blykbaar 'n liggie aan die einde van die tonnel.
Suid-Kaap Forum het weereens by Transnet navraag gedoen oor wat hulle met die gebou beoog, omdat dit 'n uithangplek vir leeglêers en ook bosslapers geword het.
Elke vertrek is met rommel, waaronder kondome en leë rooiproppie wynbottels besaai, wat 'n mens laat ys oor watter onheile daar kan uitbroei.
Tydens die koerant se vorige fotosessie gedurende Oktober verlede jaar was die gebou reeds in 'n haglike toestand. Intussen het dit vererger, met die voordeur wat heeltemal oopgebreek is en slegs aan een skarnier hang. 'n Ander deur wat voorheen toegang tot toilets gegee het, is ook oopgebreek. Al die plafonne is vol gate en oor die algemeen ruik die binnekant soos 'n rioolplaas.
Volgens Mike Asefovitz, senior bestuurder van korporatiewe sake gaan opknappingswerk aan die gebou binnekort begin en behoort dit voor die einde van Februarie voltooi te wees.
'n Vergadering is ook in Februarie met 'n belangstellende kliënt wat die geboue by Transnet wil huur, geskeduleer.
So, en erger lyk al die plafonne.
ARTIKEL: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'