Update
STILBAAI NUUS - 'n Skaam maar vrolike Marinda Odendaal staan nie terug wanneer dit kom by die hantering van groot masjiene nie.
"Vroue moet besef dat hulle meer werd is. Hulle kan so maklik as minderwaardig of swakker afgemaak word."
So het sy gemotiveerd gebly om nie te knak in wat mense 'n 'manswêreld' sal noem nie.
Haar bestuursvernuf word bykans altyd onderskat juis omdat sy 'n vrou is. Sodra sy agter die stuurwiel is en wys dat sy vir niemand hoef terug te staan nie, is almal skielik stil.
"Dit was erg in die begin. Die manne het baie te sê gehad. Wanneer ek op 'n site moes gaan laai het sommige aanmerkings gemaak en by my probeer aanlê. Ek bly nie stil wanneer so iets gebeur nie.
"Ek sê vir hulle dat ons almal hier is om te werk en mekaar moet respekteer. Nou gaan dit al baie beter."
Hoewel haar pa, Willem, vragmotors en grondverskuiwingsmasjinerie besit, het Marinda nie alles op 'n skinkbord gekry nie. Sy voeg by: "As jy iets wil hê in die lewe moet jy hard werk daarvoor, dan weet jy waar dit vandaan kom."
Meeste van haar vriendinne studeer nog en hou gereeld partytjie of gaan op 'n naweekwegbreek terwyl sy getrou op haar pos is.
Sy werk hard vir dit wat sy wil bereik en bedank haar ouers vir hulle ondersteuning en kennis.
Haar plan was eers om siviele ingenieurswese te studeer, paaie te ontwerp en uit lê. "Ek het nooit gedink dat ek 'n operateur sou word nie. Dit is eers nadat ek vir 'n jaar as voorman vir 'n konstruksiemaatskappy gewerk het dat ek anders besluit het."
Vandat sy kan onthou het sy en haar jonger boetie haar pa se masjiene uitgetoets en mekaar geleer hoe om daarmee te werk.
"My pa het my boetie meer geleer van die masjien self en ek het met die oog gesteel terwyl hulle gewerk het. Wanneer my pa nie by die huis was nie het ek en my boetie skelmpies die masjiene bestuur. My liefde daarvoor het toe reeds begin."
Nadat sy gematrikuleer het, het sy eers vir 'n jaar haar oom gaan help boer en gehelp met die oeste.
"Ek het gereeld vir my pa gesê dat ek my kode 14-lisensie wil kry. Sodra ek 21 geword het en vir 'n openbare bestuurspermit gekwalifiseer het, het ek my lisensie en permit gekry. Mense wat swaarkry of sukkel om werk te kry kan 'n verskil in hul lewe maak deur 'n kode 14-lisensie te kry. Jou kanse om werk te kry is soveel beter."
Wim en Nelda van Schalkwyk was die eerste mense naas haar pa wat haar die geleentheid gegee het om 'n operateur te kon word. Sy geniet haar werk en leef haarself uit daarin. Marinda is lief vir musiek en geniet dit veral wanneer sy op 'n grondpad ry, die stof langs die wiele uitborrel en daar 'n lekker langpadliedjie speel.
Marinda het reeds as klein dogtertjie swaar masjiene bestuur. Sy het so gou sy kon haar kode 14 lisensie gekry.
"Dit is vir my lekker om met ander operateurs en boere van die omgewing te gesels. Dit is interessant om na almal se ondervindinge te luister. Vragmotorbestuurders en operateurs is amper soos 'n klein gemeenskap op hulle eie. Ons groet mekaar en 'gooi vir mekaar ligte' wanneer ons verby mekaar ry. Dit is altyd lekker om dit te ervaar."
'n Voorval wat sy goed kan onthou is toe daar eendjies oor die pad geloop het, maar hulle nie op die randsteen kon klim nie. Sy het net daar stilgehou, die verkeer opgehou en eers die eendjies gehelp.
"As dit nie vir my ma, Sumari se ondersteuning en my pa se kennis was nie, sou ek nie vandag gewees het waar ek is nie. Ek wil vir hulle dankie sê."
Marinda Odendaal laat dit maklik lyk wanneer sy met die grondverskuiwingsmasjiene werk.
Lees 'n vorige artikel: Marinda is koningin van tippers
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'