RIVERSDAL NUUS - Hoërskool Langenhoven se o. 14-netbalspan het die afgelope naweek hul stempel afgedruk by die Wes-Kaap skolekampioenskappe deur as een van die agt beste o. 14-spanne in die provinsie te eindig.
Die jong netbalspelers het deurgaans karakter, vasberadenheid en uitstekende spanwerk getoon om hul plek onder die Wes-Kaap se elite skolenetbalspanne te verseker.
Langenhoven het die kampioenskap sterk begin met ’n oortuigende 29 - 6 oorwinning oor Boy Muller Primêr, gevolg deur ’n naelbytsege van 11 - 10 teen Hoërskool Swartland.
Ondanks hul nederlaag van 8 - 23 teen Hoërskool Durbanville het die span twee van hul drie poelwedstryde gewen en tweede in hul poel geëindig om na die kwarteindronde deur te dring.
In die kwarteindstryd het hulle teen die sterk span van Paarl Gimnasium te staan gekom.
Hoewel Langenhoven die wedstryd 29 - 5 verloor het, het die uitslag nie afbreuk gedoen aan hul indrukwekkende prestasie gedurende die toernooi nie.
Aangesien daar geen verdere uitspeelwedstryde was om die posisies van vyf tot agt te bepaal nie, het Langenhoven die kampioenskap afgesluit as een van die topagt o. 14-netbalspanne in die Wes-Kaap.
Die prestasie getuig van die spelers se harde werk, dissipline en toewyding deur die seisoen, asook die leiding van hul afrigters.
Die skool het sy gelukwense aan elke speler en afrigter oorgedra en hulle bedank vir die trotse wyse waarop hulle Hoërskool Langenhoven op die provinsiale verhoog verteenwoordig het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’