Update
RIVERSDAL NUUS - Of jy dit bedel, steel, koop ... Almal smag daarna: elektrisiteit!
Oral prewel mense: "Gee my krag!" Dit is ook die titel van 'n splinternuwe TV-reeks wat op DSTV uitgesaai word.
Dié reeks is uit Riversdal deur die produksiehuis AWEMYBRU op die plaas Sleeping Beauty deur die rolprentmaker en kameraman Konrad Raubenheimer en sy vrou, Danielle McDonald, vervaardig.
Danielle is die vervaardiger en produksie-bestuurder, Konrad is die tegniese vervaardiger en aanbieder van die reeks, met regie deur Wim Steytler.
"Ons werk en woon aan die voet van die pragberg. Ons uitgangspunt is om positiewe Suid-Afrikaanse stories te vertel. Ons maak TV-reekse, skryf vir tydskrifte en aanlynpublikasies en doen ook korporatiewe werk vir verskeie handelsmerke in SA en Europa," sê Danielle.
Sy wys uit dat beurtkrag 'n deel van Suid-Afrikaners se lewe geword het. Maar dis nie net die kragnetwerk wat jaar in en jaar uit moeilikheid gee nie.
Konrad Raubenheimer en Danielle McDonald se produksiehuis AWEMYBRU vervaardig internasionale TV-programme op die plaas Sleeping Beauty in Riversdal. Foto: Dene Badenhorst
Daar is ook plekke waar watervoorsiening 'n nagmerrie is. 'n Groeiende groep mense probeer om so na aan die natuur moontlik te lewe en so min as moontlik op elektrisiteit- of watervoorsiening van die staat aangewese te wees.
Konrad steek kers op by buitengewone Suid-Afrikaners wat hulle rug op netwerk-afhanklikheid gedraai het. Van hulle het dit veel verder gevoer as net sonpanele en watertenks en het ook bou- en ontwerpprojekte aangepak om meer onafhanklik te wees.
"In elke episode verken ons die lewens van mense in verskeie afgesonderde plekke in Suid-Afrika. Elke situasie het sy unieke omstandighede. Deur persoonlike stories en boeiende beeldmateriaal kyk ons na hul motiverings, uitdagings, teleurstellings, oorlewingsvaardighede, oorwinnings, en die beloning van 'n lewe van selfonderhoud," sê Konrad.
Die reeks fokus op mense se vindingrykheid en ondersoek elkeen se unieke aanslag en benadering tot 'n volhoubare leefstyl, hernubare energie en innoverende tegnologie.
Die reeks Gee my krag word op Donderdae om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’