RIVERSDAL NUUS - Nadat Kruisrivier Primêr die landelike gemeenskap van Riversdal vir 89 jaar gedien het, maak hul deure op 31 Desember permanent toe.
Eerwaarde Martin Johnson was instrumenteel in die ontstaan van die skool in die De Draai, Kruisrivier-plaasgemeenskap. Johnson was die derde leraar verbonde aan St. Andrews sendingkerk vanaf 1921 tot 1950. In 1928 word 'n stuk grond aangekoop by Dawid Benjamin Janse van Rensburg, bekend as Dawid Hakkies. Hy was met Susanna Swart getroud. Die koopprys was twintig pond en dit is deur William Henry Butland geskenk, 'n skrynwerker van beroep en later 'n algemene handelaar, asook die eienaar van 'n slaghuis en bakkerye.
Die hoeksteenlegging het op 18 Augustus 1929 plaasgevind. Tydens die geskiedkundige geleentheid was daar 300 gaste. Die gassprekers was mnr. S. Boersma, inspekteur verbonde aan die onderwysdepartement, eerw. Johnson, Isaac Rensburg, onderwyser verbonde aan St. Andrews sendingskool, Dawid Vries, skoolhoof verbonde aan St. Lukes Engelse skool van Albertinia en die verkoper van die grond, Dawid van Rensburg.
In Januarie 1930 open die skool met Matthys Cronjé as eerste prinsipaal.
Hy was 'n produk van die Oudtshoorn Onderwyskollege. Sy eerste betrekking was by die Lutherse Berlynse Sendingskool. Die eerste ingeskrewe leerder was Hendrik Marcus. Cronjé was slegs ses maande in die betrekking.
Hy was instrumenteel dat die hawe op Stilbaai gebou is en vestig hom later as visbaron op Stilbaai en die Stilbaai-munisipaliteit vernoem 'n straat na Thys Vissie. Hy is in 1979 oorlede.
In Junie 1931 arriveer Daniël Johannes Layman vanaf Stellenbosch. Hy was 'n lekebedienaar by St. Andrews en verkondig hy die Evangelie op die plase. Hy gee onderwys by die skool tot in Maart 1935.
Raymond Steyn was onderwyser/prinsipaal vanaf Julie 1935 tot Junie 1944. Die gebore Riversdaller was die eerste bruin persoon wat die pos as prinsipaal in sy tuisdorp beklee het. Alexander Taute word in 1941 aangestel as tweede onderwyser, aangesien die leerdergetalle geweldig gegroei het. Taute word in Augustus 1944 aangestel as die vierde prinsipaal. Sy een seun, Christopher Taute was Riversdal se eerste demokratiese burgemeester vanaf 1995 tot 1999.
Simon Abrahams, meer bekend as Boet Nefie word aangestel in die plek van Taute vanaf Augustus 1944 tot 1949. Hy het in 1949 waarnemende prinsipaal van Novo EK Primêr geword en in 1950 prinsipaal, tot met sy aftrede uit die onderwys in Desember 1983. Martin du Preez word in 1949 aangestel as onderwyser, 'n posisie wat hy tot in 1969 beklee. In Junie 1970 word hy as waarnemende prinsipaal aangestel tot Desember 1978. In 1979 onderrig hy Engels as tweede taal aan sy alma mater, die Lutherse Berlynse sendingskool.
Alroy Hillwas prinsipaal vanaf 1979-1994. In 1995 word Sylvia Horn as prinsipaal aangestel tot met haar skielike afsterwe in Januarie 2014. Alida Duminy neem as tydelike onderwyser waar vanaf Januarie tot 31 Desember 2014.
Met die sluiting van Lanquedoc NGK-skool in Desember 2014, word Connie Adams as die prinsipaal aangestel. Die skool sluit as gevolg van dalende leerdergetalle, slegs 32 op 31 Desember 2018, nadat dit die gemeenskap met trots, hetsy akademies of godsdienstig van aard gedien het.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'