HEIDELBERG NUUS - Die kragtariewelys (regs van berig)wat deur Alexander Panzek van Heidelberg op sosiale media geplaas is, het inwoners van Hessequa warm onder die kraag omdat dié streek as een van die duurste in die land beskou word.
Suid-Kaap Forum is die afgelope paar weke oorval deur ontstoke inwoners wat antwoorde van die munisipaliteit eis.
Van die klaers het genoem dat dit nie eens help om self navraag by die munisipaliteit te doen nie, omdat daar altyd ontwykende antwoorde gegee word. Nersa word ook as die groot sondebok voorgehou.
Die feit dat Eskom 'n tariefverhoging van 20,5% voorstel, sal vir menige inwoner wat reeds sukkel om kop bo water te hou, 'n verdere nekslag toedien, sou dit aanvaar word.
Chrisna Hough, sekretaresse van die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles het by navraag 'n skrywe van Riddles aan Nersa aan die koerant gestuur waar hy beswaar teen die voorgestelde verhoging vir die 2022/2023 finasiële jaar maak.
Hy het 'n verhoging van 5.5%, wat meer realisties en nader aan die inflasiekoers is, voorgestel.
In kommentaar deur Hessequa-munisipaliteit het Didi Budricks, hoof van openbare betrekkinge, administrasie en hulpdienste gesê dat die munisipaliteit tans begrotingverwante beleide met die plaaslike gemeenskappe werkswinkel.
"Die doel van die werkwinkels is waar die huidige toepassing van beleide aan gemeenskappe verduidelik word met die versoek vir insette en/of kommentare vir moontlike verbetering van beleidsriglyne. Hierdie werkswinkels spreek nie styging van tariewe aan nie, maar beginsels van tariefstrukture, kortings op dienste, ensovoorts.
"Nadat die proses afgehandel en deur die Raad bekragtig is, word 'n inkomstebegroting, in konsep formaat opgestel, wat dan met die gemeenskap gedurende eerste week in April 2022 gewerkswinkel sal word," het sy gesê.
Op die lys word die kragtariewe van 'n paar munisipaliteite met dié van Hessequa vergelyk.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'