HESSEQUA NUUS - Die hoë voorkoms van tienerswangerskappe in die land, maar ook in dié streek, het die departement van basiese onderrig gedwing om 'n oplossing daarvoor te vind.
Die voorgestelde omvattende seksualiteit-onderrig vir leerders van gr. 4 tot 12 sal in die lewensoriënterings-periode aangebied word.
Dr. Angie Motshekga, minister van basiese onderrig, hoop dat die leerplan wat aspekte van seksualiteit in meer diepte toelig 'n wesenlike uitwerking op die voorkoming van onder meer tienerswangerskappe en die toename in MIV/Vigs en seksueel-oordraagbare siektes sal hê.
Dit het egter skerp reaksie ontlok.
Van die besware is dat die nuwe lesinhoud nie gepas is nie en dat dit seksuele gedrag sal aanwakker eerder as om dit aan bande te lê. Sommige beswaarmakers meen ook dat die inhoud selfdegeslagverhoudings, masturbasie en aborsie sal normaliseer.
Plaaslike skoolhoofde se mening
"Die infasering van die kurrikulum kan problematies wees aangesien ons as opvoeders en die ouers nog geen wesenlike betrokkenheid met die opstel daarvan gehad het nie," sê Richard Flores, hoof van Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool.
"Op hierdie stadium het ons ouers, ander lede van die publiek en kerkgenootskappe in ons gemeenskappe wat byvoorbeeld 'n groot rol kon speel met die opstel van die nuwe kurrikulum."
Hy meen die bestaande ondersteuning van die onderwysdepartement sukkel om baie leerders se koppe te swaai om meer ingeligte besluite rondom seksuele gesondheid en tienerswangerskappe te maak.
"Dit is te vroeg om nou al 'n kleim af te steek dat die nuwe kurrikulum hierdie dilemmas suksesvol sal aanspreek, want dit moet nog bewys word." Hy meen baie ouers, volgens die verwysingsraamwerk van hul eie grootwordjare, word nou voor 'n groot uitdaging geplaas om te kies of hul kinders aan sommige eksplisiete voorbeelde uit seksopvoeding blootgestel moet word, al dan nie.
"Vir sommige ouers en leerders kan dit lei tot spanning en ongemaklikheid. Vertroue in die kurrikulum sal dus gebou moet word deur deurdagte beplanning en die kontrolering van lesaanbieding in klaskamers. Vir ons as opvoeders bly dit ons plig om ons leerders vir die toekoms voor te berei en ons sal alle moontlike vernuwing aanneem, maar balans moet altyd in vernuwing gehandhaaf word," sê Flores.
"Die departement reken die lesinhoud is gepas vir die onderskeie graadgroepe waarvoor dit geskryf is, maar ek gaan my nie nou uitspreek oor die geskiktheid van die inhoud nie," sê André Latsky, hoof van die Hoër Landbouskool Oakdale.
"Ons het nog nie met ouers hieroor geskakel nie aangesien ons met eksamen besig is. Ek glo daar sal uiteenlopende reaksie van onderskeie ouers wees afhangende van die vrymoedigheid wat van gesin tot gesin verskil om met hul kinders hieroor te gesels."
Louis Lategan, hoof van Laerskool Volschenk, sê verskeie ouers het die skool genader na aanleiding van mediaberigte en gerugte op sosiale media. Volgens hom het die skool nog geen amptelike skrywe van die Wes-Kaap departement van onderwys in die verband ontvang nie.
"Die WKOD het 'n verklaring uitgereik wat ek aan die ouers gestuur het. In dié stadium bly alles in 2020 net soos wat dit die afgelope jaar was."
Lesplanne en onderwysershandleidings is op die onderwysdepartement se webtuiste www.education.gov.za ter insae beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'