RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike polisie, onder leiding van sers. Jakobus Spangenberg van Mosselbaai se K9-eenheid, het verlede Saterdag, 28 Januarie, verskeie klopjagte in die Riversdal-omgewing uitgevoer.
Die inisiatief was daarop gemik om dwelmverwante misdade asook minder ernstige misdrywe te ondersoek en die verdagtes vas te trek.
Spangenberg, vergesel deur sers. Garnet Damans, konst. Edwin Kortjé en buurtwaglid Lee-John Vaaltyn het verskeie arrestasies uitgevoer wat verband hou met die handeldryf in dwelms, besit van gevaarlike wapens en ook 'n aanranding wat met gesinsgeweld verband hou.
Die misdaadvoorkomingsveldtog het tot Sondag 29 Januarie om 20:00 geduur en het gelei tot die arrestasie van vyftien mense wat dronk was in die publiek, ses vir die besit van gevaarlike wapens soos kapmesse, bylkoppe en pasgemaakte skerp voorwerpe, en een vir die handel in dwelms.
Spangenberg sê die gemeenskap het hul vertroue in die polisie geplaas en 'n problematiese dwelmadres verskaf wat gelei het tot die beslaglegging van 'n groot hoeveelheid Mandrax, tik en dagga. Na beraming is die straatwaarde van dié vonds ongeveer R5 500. Een persoon is in hegtenis geneem en sal eersdaags voor die hof verskyn.
Die plaaslike stasiebevelvoerder, lt. kol. Isaacs, het die betrokke beamptes geloof vir hul bereidwilligheid, opoffering en toewyding om die publiek van Riversdal te beskerm teen misdadige elemente.
Die publiek word versoek om sers. Damans by die plaaslike polisiestasie te kontak met enige inligting wat betrekking het tot enige misdaad. Inligting word vertroulik hanteer en anonimiteit word verseker.
Sers. Jakobus Spangenberg (links), sers.Garnet Damans (tweede van regs) en buurtwaglid Lee-John Vaaltyn (regs) ondersoek 'n verdagte vir die besit van gevaarlike wapens. Foto's: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'