RIVERSDAL NUUS - Keiko KleuterAkademie het Woensdag 1 Oktober, nie net hul eerste verjaarsdag met groot blydskap gevier nie, maar ook 'n hartroerende gemeenskapsinisiatief bekendgestel: die Keiko Droom Ons-projek.
Wat is Keiko Droom Ons?
Dit is 'n besonderse vennootskap tussen Keiko KleuterAkademie en Droom, waar Keiko elke kwartaal tien bejaardes nooi om 'n oggend saam met die kleuters deur te bring.
Hierdie projek bring twee generasies bymekaar - die wysheid en warmte van die ouer garde en die spontane liefde en energie van die kleuters.
"Vir ons bejaardes beteken dit nuwe vreugde, geselskap en die gevoel dat hulle steeds waardevol is," sê Inge-Marié Veldsman, direkteur van Keiko KleuterAkademie.
"Vir ons kleuters is dit 'n les in respek, empatie en die eenvoudige vreugde van gee en ontvang."
Met dankbare harte kyk Keiko KleuterAkademie terug op 'n suksesvolle eerste jaar, en met hoopvolle harte vorentoe na die vele generasies wat deur die Droom Ons-projek met mekaar verbind gaan word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’