SWELLENDAM NUUS - 'n Donker wolk van hartseer hang oor die gemeenskap ná die tragiese dood van die tweejarige Nazeem van Wyk in 'n ongeluk buite Slangrivier en die afsterwe van Jason Adams (21), wat Woensdagmiddag 29 April omstreeks 14:30 sy stryd om lewe verloor het nadat hy ernstige kopbeserings in die ongeluk opgedoen het.
Intussen staar die gebroke pa van die kleuter, Elvin-Lee Edon (22), nou strafregtelike aanklagte in die gesig ná die noodlottige ongeluk wat die gemeenskap geruk het.
Edon het Dinsdag 28 April op verskeie aanklagte vlugtig in die Swellendam-landdroshof verskyn - strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur, asook bestuur onder die invloed van alkohol.
Die saak om borgtog is tot Maandag 4 Mei in die Heidelberg-landdroshof uitgestel.
Die voorval
Edon het Saterdagaand, 25 April, ongeveer 23:30 sy huis in Swellendam verlaat en na bewering op die Port Beaufort-pad, net voor die kruising met Hoofweg, Slangrivier, beheer oor sy Toyota Hilux verloor.
Die voertuig het die pad verlaat en teen 'n wal op sy sy tot stilstand gekom.
Die ambulanspersoneel het Nazeem op die toneel dood verklaar.
Volgens Nazeem se bedroefde ma, Nazneen, was Edon onderweg na Slangrivier om sy neef, Adams, asook nog 'n vriend huis toe te neem ná hul dag se kuier op Swellendam, toe die ongeluk gebeur het.
Sy het verder gesê dat sy geen rede het om te glo dat die pa van haar twee kinders die tragedie kwaadwillig veroorsaak het nie.
"Ek sal hom deur hierdie pynlike ervaring wat ons in die gesig staar, vierkantig bystaan en volkome ondersteun," het sy gesê.
Nazneen beskryf Edon as 'n wonderlike mens en lewensmaat, asook 'n liefdevolle en barmhartige vader vir Nazeem en hul eenjarige babadogter, Skylar.
Jason Adams se lot
Daar was aanvanklik hoop vir Adams, wat ernstige kopbeserings in die ongeluk opgedoen en in die provinsiale hospitaal op George opgeneem is.
Volgens beskikbare inligting was hy aan asemhalingsmasjiene gekoppel en het hy later weer op sy eie begin asemhaal.
Hy het egter Woensdagmiddag, 29 April, sy stryd om lewe verloor.
Nazeem se begrafnis sal Vrydag 8 Mei plaasvind.
Die volledige reëlings is nog nie gefinaliseer nie, en Adams s'n is nog nie bekend nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’