RIVERSDAL NUUS - Kindersorg SA se Riversdal-tak het gedurende kinderbeskermingsweek van 27 to 31 Mei op kinders se regte gefokus.
Verskeie programme, wat gefokus het op kinderverwaarlosing en -mishandeling, asook kinderveiligheid - wat mensehandel, kindermolestering, verkragting en boeliegedrag insluit - is vir verskillende ouderdom- en teikengroepe aangebied.
Dag 1 by Panorama Primêr is gefokus op boelie van medeleerders. Sers. Phillip Theart en konst. Venia Daries van die polisie en maatskaplike werker Bianca Adams, het 'n voorlegging gedoen oor boeliegedrag en die gevolge daarvan.
Rozette Mkize het die middag saam met pleegkinders deurgebring en meer vertel oor molestering en die voordele wat aanmelding daarvan inhou.
Dag 2 by Voorwaarts Primêr is boeliegedrag deur middel van toneelspel deur studente Eben Januarie en Sandra Alexander, asook Adams en Daries vir gr. 1 en gr. 2-leerders aangebied.
Dag 3 is basiese veiligheid vir kleuters van Feetjieland-kleuterskool deur Daantjie Kat en mnr. Morné Dayson van die verkeersdepartement gedemonstreer. Die brandweer het gewys wat gedoen moet word wanneer 'n brand ontstaan. Die kinders is bederf met lekkergoedpakkies wat deur Nicky Franklin van Kasselshoop geskenk is.
Dag 4 is by Kindersorg aangebied. Die gemeenskap is na 'n inligtingsessie oor kindermolestering en mensehandel genooi. Hulle het geleentheid gekry om rolspel te doen oor hierdie tendense en daarna terugvoer gegee oor hoe die probleem aangespreek kan word.
Dag 5 sou inligting met die plaasgemeenskappe van Tolange, Soetmelksrivier en Hoëkraal-plaas gedeel word, maar weens onvoorsiene omstandighede kon dit nie plaasvind nie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'