RIVERSDAL NUUS - Dié dorp se feesseisoen word op Sondag 17 November amptelik ingelui wanneer die Moedergemeente se Kerssangdiens aangebied word.
Ds. André Jordaan, het aan Suid-Kaap Forum gesê die feestelike sangdiens word deur die gemeenskap vir die gemeenskap aangebied. "Inwoners kan uitsien na 'n uitsonderlike aand van sang."
Die program begin om 19:00 met die feesboodskap deur die Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, waarna 'n koor van die Riversdal Uitvoerende Kunste (RUK) sal optree.
Die koor word deur Pam de Goede afgerig. Hulle was by vanjaar se eisteddfod in aksie en het ’n groot indruk gemaak.
Die blaasorkes van die Anglikaanse Kerk is ook deel van die program en die bekende Afrikaanse sanger Michael Lindt gaan ook sing.
Dan, seker 'n hoogtepunt, is die aanskakeling van die dorp se Kersliggies deur die burgemeester. Mense sal dit in die kerk se tuin kan dophou.
Enige inwoner is welkom om die sangdiens by te woon. Daar sal 'n kollekte by die deure gehou word en enige bydraes sal aan DROOM geskenk word vir die twee tehuise waarna hulle omsien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’