RIVERSDAL NUUS - 'n Veilige hawe waar baba's, peuters en kleuters veilig en gemaklik kan voel.
Só verduidelik Inge-Marié Veldsman, skooldirekteur van die Keiko KleuterAkademie wat op 1 Oktober hul deure in Riversdal oopgemaak het.
Verskeie genooide gaste, diensverskaffers en borge het die openingsaand bygewoon waar Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, die lintknipseremonie behartig het.
"Ons skep 'n omgewing eie aan die kleintjies se ouerhuis sodat hulle as't ware soomloos by Keiko kan inskakel. Boonop gee dit ook gemoedsrus aan ouers wat bedags in hul eie werksomgewings besig is. Ons verskuif die bekommernis van ouerskap weg van hul skouers af sodat hulle op hul werk kan konsentreer."
Inge-Marié sê die naam Keiko is 'n Japanese selfstandige naamwoord met verskeie betekenisse: Liefdevol, vriendelik, omgee, oulik, cool - vol met ongebreidelde optimisme.
By die akademie word die kleintjies volgens ouderdom in vier klasse verdeel:
- 4 maande tot 1 jaar
- 1 jaar tot 2 jaar
- 2 jaar tot 3 jaar
- 3 jaar tot 4 jaar
Die ure van Keiko is van Maandae tot Vrydae vanaf 07:15 tot om 17:00. Hulle sal ook gedurende skoolvakansies oop wees, maar wel in Desember en Januarie gesluit wees. Die akademie sal ook op openbare vakansiedae sy deure toemaak.
Inge-Marié sê hulle bied 'n gebalanseerde en ouderdomsgepaste kurrikulum aan alle leerders.
"Die kurrikulum verseker die emosionele- asook die groot én fyn motoriese ontwikkeling van elke kind. Dit sal gebalanseer word met speel asook ouderdomsgepaste slaaptye.
By Keiko word daagliks gebalanseerde maaltye voorgesit wat bestaan uit ontbyt, 'n peuselhappie (snack) gevolg deur middagete.
Benewens die klasareas, waar die kinders tyd sal bestee, is daar ook 'n binnenshuise-speelarea, 'n buitespeelarea wat ingerig is met verskeie apparate en aktiwiteite om leerders veilig te stimuleer.
Vir enige navrae kontak Inge-Marié by info@keiko.co.za of op 087 802 2466.
Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, behartig die lintknipseremonie tydens die bekendstelling van die Keiko KleuterAkademie met rdsl. Betsie van Noordwyk (middel) en Inge-Marié Veldsman, skooldirekteur van die Keiko KleuterAkademie, byderhand. Foto's: Hugo Redelinghuys
Genooide gaste, diensverskaffers en borge kon behoorlik weglê aan die smaaklike peuselhappies wat voorgesit is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’