Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Kairos Senior Sekondêr het Vrydag 24 Junie amptelik van hul hoof, Vivian Prins afskeid geneem.
Prins was vir 37 jaar in die onderwys, waarvan die afgelope 13 jaar aan die stuur van Kairos.
Die passievolle opvoeder het sy onderwys-loopbaan aan Gerrit du Plessis in Riversdal in 1996 begin voordat hy in 2009 by Kairos aangestel is.
Die afskeidsverrigtinge in die skoolsaal is deur die leerders, personeellede, beheerliggaamlede, alumnilede, Kairos Ondersteunings-groeplede (KOG), ds. Moses Baartman, Kairos se eerste skoolhoof voor hy bedank het om die kerk te betree, asook Mias du Plessis, Eden-kringbestuurder.
Prins se vrou, Ashleen, sy ma, asook hul twee dogters en ander familielede bygewoon.
Tydens die verrigtinge het Prins die skool se sleutel en die 'prinsipaalbaadjie' aan Trevor February - bekend as Mister Thysie - oorhandig wat tydelik as hoof sal waarneem.
Die verrigtinge is deur Marthinus Goliath, 'n onderwyser wat as seremoniemeester opgetree het geopen. Wendy Vollenhoven, BHL-voorsitter het die aanwesiges verwelkom en Prins geloof vir sy bydrae tot die vooruitgang van die skool. Sy het ook met groot lof van Prins se oopdeurbeleid gepraat tydens sy era as skoolhoof.
Beide Beatrice October, KOG-bestuurslid en Harrieth de Wet, eksamenopsiener, het Prins bedank vir sy bydraes en opofferings om die skool tot hoogtes te lei. De Wet het ook na sy persoonlikheid as omgeemens verwys.
VIDEO: Kairos prinsipaal tree af
Baartman en Du Plessis het met groot lof gepraat van Prins se werksetiek. Baartman het sy toespraak veral op die leerders gemik.
Met inagneming van Prins se omgang met almal wat sy weg gekruis het, het Baartman aangehaal, "jy is spesifiek ontwerp, uniek gevorm vir God se doel".
Verder het hy hulle motiveer deur te noem "dit is nie wat jy dra, nie wie jy voorgee om te wees nie, maar die mens wie jy is wat ander inspireer".
Prins het tydens sy toespraak die aanwesiges bedank vir die bydrae wat hulle in sy lewe gemaak het.
Vivian Prins oorhandig die "prinsipaalbaadjie" aan Trevor Februarie, wat as waarnemende skoolhoof sal instaan tot die nuwe aanstelling gemaak word.
Hy het veral die skool en gemeenskap bedank dat hulle hom so goed ondersteun het. Hy het ook vir Du Plessis en Baartman bedank vir hulle ondersteuning, al was dit met telefoniese kommunikasie.
Sy gesin, Ashleen en hul dogters, Staci-Lee en Jade, asook sy ma, Millicent Prins, was ook op sy bedankingslys vir hul motivering en ondersteuning, maar ook vir hul verdraagsaamheid wanneer hy so baie tyd aan die skool moes afstaan.
Volgens Prins kon hy nie vir 'n beter span kollegas en beheerliggaam gevra het nie. "Julle was altyd daar om my arms omhoog te hou. Sonder julle sou ek dit nie kon vermag het nie."
Gepols of daar enige hoogte- of laagte-punte is waaroor hy enigsins spyt is, het hy benadruk dat die goeie matriekuitslae van 2021 uitstaan en hulle is ook deur die Eden Sentraal Karoo-onderwysdistrik as die beste matriekuitslae in Kwintiel 4 aangewys.
Vivian Prins saam met sy vrou Ashleen, en dogters Jade en Staci-Lee.
Dit, saam met die bou en voltooiing van die skoolsaal in 2017 staan vir seker uit onder die vele hoogtepunte. "Hoewel die skool geklassifiseer word onder die ryk skole, sukkel ons finansieel.
"Een van die teleurstellings was die feit dat die skool deur die jare nooit as 'n geen skoolfooi-skool geklassifiseer is nie, maar met al die uitdagings was ons steeds geseënd met die ondersteuning van die breë gemeenskap en plaaslike besighede."
Die verrigtinge is afgesluit met die leerders wat 'n erewag vanuit die saal tot voor by die kantoor vir Prins en sy familie gevorm het. Prins het knap voor 12:00 die skoolklok vir die laaste maal gelui voor ballonne die lug ingestuur is om sy verbintenis met die skool af te sluit.
Hoewel die verrigtinge in 'n vrolike luim plaasgevind het, was daar vele trane van dankbaarheid en blydskap.
Vivian Prins in jolige luim vir die laaste keer op kantoor. Foto's: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'