Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Leesliefhebbers wat vandeesmaand boeke by dié dorp se biblioteek omruil en uitneem, word ter viering van nasionale biblioteekmaand boonop met kuns bederf.
Dié biblioteek is vrolik kindervriendelik en ontgin lees- én kunsbelangstelling.
Sestien jong kunsstudente se mooiste kunswerke word onder die waaksame oog van die kunstenaar en dosent Louise Kluyts van die Starnation-ateljee ten toon gestel.
“Skole bied nie meer kunsvlyt as vak aan nie; blykbaar weens begrotingtekorte en ‘n gebrek aan opgeleide kunsopvoeders. Daarom moet ouers, wat die waarde van kuns in ‘n kind se kreatiewe ontwikkeling besef, geleenthede by privaat kuns-instellings benut,” sê Louise. Sy is ook die voorsitter van die Hessequa-kunsroetekomitee.
Die teaterkenner en kunsteresensent, Wim Vorster, het die uitstalling geopen en die waarde van lees, kuns, kultuur en kreatiwiteit beklemtoon.
“Almal wat lees en teken, gaan dalk nie skrywers of skilders word nie, maar die vrug van skepping sal altyd hul denke verruim.”
Die tema van die uitstalling is, Plaaslik is fantasties.
Dit duur nog tot die einde Maart.
VIDEO: Leesliefhebbers wat vandeesmaand boeke by Heidelberg se dorpsbiblioteek omruil en uitneem, word ter viering van nasionale biblioteekmaand boonop met kuns bederf. Video: Clive Pretorius
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’