RIVERSDAL NUUS - Daar is vieringe by die Geel Mossie se Opwip-feesgalery in dié dorp!
Sowat 250 kunswerke kan hier besigtig word.
En twee van die kunstenaars verjaar!
Rivkah van der Merwe word vandag twintig jaar oud en Danie Cronjé vier sy sewentigste verjaardag môre.
“Ek is baie tevrede met my kunsprestasies en toekennings die afgelope paar jaar. Ek weet ek het 'n unieke talent wat ek benut om die wêreld vir myself en ander mense in te kleur en met my kuns soveel mooier te maak,” spog Rivkah trots.
Haar werke word gekenmerk aan kleurryke detail. Elke werk vertel 'n eie storie en verras keer op keer in haar soeke na die volmaakte. Nagenoeg vyftig van haar multi-mediakunswerke vorm deel van dié tentoonstelling.
Maar, daar is tog patos in haar triomf. “Ek ly aan epilepsie, gebruik medikasie en moet my gesondheid heeltyd beheer. Ek het nie die vryheid om sonder toesig te beweeg nie, 'n motor te bestuur en saam met ander jong meisies en seuns te kuier nie. Dit is hartseer en soms smag ek na daardie sosiale vryheid.”
Sy sê sy streef na professionele meesterkunstenaarskap. “Elke stukkie kuns wat ek skep, weerspieël 'n tikkie van myself, 'n bietjie van my hart, my uitdagende leefwêreld én my kreatiewe siel.”
Danie, wat vier dekades lank 'n onderwyser was en 'n gerespekteerde loopbaan as sportprenttekenaar geniet het, is dankbaar vir sy sewe dekades op aarde. “Ek is op baie dinge trots, maar ek moet noem dit sou nie sónder genade van Bo moontlik gewees het nie!”
Hy het homself in die hoërskool geleer om van sy lui bry ontslae te raak. Tydens sy onderwysjare het hy 'n rekenaarprogram geskep wat deur Umalusi goedgekeur is vir die nasiening van matriekvraestelle.
Maar niks oortref sy eerste en enigste hondertal in kriekiet nie! Dit was tydens 'n klubwedstryd in Virginia in die Vrystaatse goudvelde.
Hy sê hy berou min dinge, maar is tog spyt dat hy nie kuns as vak op universiteit geneem het nie.
“ As ek my lewe sou kon oorkry, sou ek nie so skugter gewees het vir die skoner geslag nie. G'n wonder dat ek eers op gevorderde ouderdom die knoop deurgehaak en 'n gesinsman geword het nie. Ek sal graag grasieus oud wil word. En ek wens om wel daardie een skildery - wat my tot nou toe nog ontwyk – te skep én almal gaan omboul!”
Dié twee kunsskeppers spog met hul kreatiwiteit saam met die ander kunstenaars by die Geel Mossie se Opwip-feesgalery. Hulle is Marilise Lombard, Janet Muller, Isabel du Toit, Elzett Cronjé, Liza Naudé, Julie Wilson, James Stanley, Keith Grieve, Koos Gagiano en die pottebakker Robyn Learmonth.
* Die Opwip-tentoonstelling duur nog tot 22 Desember by die Geel Mossie, Langstraat 23 (op die hoek van die Ou Tronk). Van tienuur soggens tot vieruur smiddae.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’