HEIDELBERG NUUS - Elizabeth Jacobs, alombekend as Jassie, het ’n sopkombuis bekendgestel om veral kwesbare kinders en hul ouers in haar gemeenskap by te staan.
Die projek, Soul Buddies Voedingskema, is die vervulling van ’n droom wat sy oor die afgelope paar jaar gekoester het.
Jacobs, wat self ’n moeilike verlede van mishandeling beleef het, het in ’n poging om ander vroue te inspireer, reeds in 2020 haar storie met Suid-Kaap Forum gedeel.
Nou neem sy daadwerklike stappe om hoop en hulp te bring waar dit die nodigste is.
“Ek het gesien hoe werkloosheid kinders en enkelouers raak, en ek wou iets positiefs doen,” sê sy.
Met die ondersteuning van voormalige onderwysers en gemeenskapslede, waaronder Cynthia Roberts en Avril Geldenhuys van De Waalville Primêr, het haar droom begin realiseer.
Benewens warm kos, wil Jacobs ook lewensvaardighede oordra. Sy leer kinders waardes soos respek, positiewe ingesteldheid en die belangrikheid van goeie keuses.
By die amptelike bekendstelling het sy die jong kinders aangemoedig om altyd hul beste te doen.
Donateurs is hartlik bedank vir hul ondersteuning, en elke kind het nie net ’n bord sop en lekkernye ontvang nie, maar ook ’n warm wolmussie.
Jacobs se inisiatief het reeds harte geraak en sy nooi die publiek om haar te ondersteun. Vir enige bydraes, van kos tot klere, kontak haar by 081 054 2437.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’