STILBAAI NUUS - Vir jare is die Jagersbosch-liefdadigheidswinkel uit 'n klein vertrekkie bedryf en elke oggend voor oopmaaktyd moes personeel eers 'n groot deel van die voorraad op die stoep uitpak om binne beweegruimte te skep.
Op reëndae kon hulle glad nie oopmaak nie, aangesien daar eenvoudig nie genoeg spasie was om in die winkel te beweeg nie.
Onder leiding van die vorige algemene bestuurder van Jagersbosch Gemeenskapsorg, Wessel Lindström, is planne beraam vir 'n nuwe winkel en verskeie fondsinsamelings is gehou om dié droom 'n werklikheid te maak.
Die ambisieuse projek is 'n jaar gelede voltooi en net 'n entjie van die ou winkel af staan vandag die pragtige nuwe sinkgebou, bekend as Die Sinkhuis.
Dit was 'n heuglike dag toe Rachel Wall, voorsitter van die Direksie, Die Sinkhuis amptelik geopen het. Sedertdien het verkope aansienlik toegeneem.
Die ruim en netjiese winkel, met genoeg beweegruimte en heelwat meer rakspasie, lok baie voornemende kopers en het reeds talle gelukkige kliënte tot gevolg gehad.
Vrydag, 23 Januarie, vier Jagersbosch die eerste verjaardag van die nuwe winkel met 'n feestelike program wat braaivleis, pannekoek, koek en gelukkige trekkings insluit.
Besoekers kan hul eie braaibord saamstel met verskillende disse. Braaiborde is slegs vir wegneem beskikbaar. Bestellings kan geplaas word by 028 754 3489 of 064 824 1185.
Die feestelikhede begin Vrydag om 09:00, met braaiborde is beskikbaar vanaf 11:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’