STILBAAI NUUS - Saterdag 2 Julie was 'n goueletterdag vir Jagersbosch Stilbaai, want dit was hul Grootfees.
Só het Karel Nel, 'n inwoner van Jagersbosch, die jaarlikse Jagersbosch-basaar beskryf.
Die opgewondenheid het inderdaad al op Vrydag 1 Julie begin toe meer as 100 vrywilligers, saam met die personeel van Jagersbosch, begin het om die gemeenskapsaal in te rig, die tafels gereed te kry en vragte en vragte kos en ander goedere in te dra.
Teen 17:00 Vrydagmiddag was die meeste voorbereiding afgehandel en het Pieter Mostert, voorsitter van die direksie, almal bymekaar geroep en bedank waarna daar 'n worsbroodjie vir ieder en elk uitgedeel is.
Saterdagoggend vroeg was die werkers fluks aan die gang in die donkerte met hul laaste voorbereidings voordat pastoor Rischmuller die basaar met gebed geopen het. Binne minute was daar nie meer parkeerplek in die omgewing van die gemeenskapsaal beskikbaar nie. Sommige mense het selfs van hulle huise af gestap.
Die saal was volgepak met vriendelike Stilbaaiers en besoekers en hulle het behoorlik ingeklim en al die lekker dinge geniet.
Daar was 'n ongelooflike ontbyt, vetkoeke en kerriemaalvleis, kerrie-en-rys, hamburgers, pannekoeke, koek-en-koffie, koeke en terte - alles natuurlik geskenk deur Stilbaai se fantastiese gemeenskap en besighede.
Die vleis het amper letterlik van die tafel verdwyn en die groente was 'n treffer. Die plantjies het goed verkoop en die stapels boeke het baie belangstelling gelok.
Elmarie se Winkel, die Kwikstertjies se mooi goedjies en die Witolifanttafel se kosbare skatte het vinnig verdwyn en hierdie jaar het Jagersbosch ook die eerste keer ander deelnemers hul stalletjies in die middel van die saal laat opsit. Daar was ook kerse en klere, klippies en juwele en vele meer. Daar was selfs 'n posseëluitstalling en tussen deur alles het Henry gesorg vir die lekkerste musiek. Buite is die kindertent en springkasteel ook druk besoek.
Die lekkerste van die basaar was die gekuier. Daar was lanklaas so baie glimlagte bymekaar in Stilbaai en dit boonop sonder maskers. Daar is behoorlik 'n hond uit 'n bos gepraat en gekuier.
Jagersbosch het onlangs 'n geweldige groot terugslag gehad toe die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling skielik, twee maande in die nuwe finansiële boekjaar, die dienskontrak met twee derdes verminder het. Maar, dis tye soos hierdie en die warm harte van die Stilbaaiers, wat sal maak dat Jagersbosch sal oorleef en van krag tot krag sal gaan.
Karel sê Jagersbosch weier om te kapituleer en sal hul missie uitleef om deur hul sorgdienste by te dra tot die goeie lewenskwaliteit van die mense en deur die uitleef van hul waardes: uitnemendheid, integriteit en deernis.
Julean Muller (links) en Helena Nel by die basaarpoeding wat vinnig uitverkoop het.
Die pannekoekbakkers moes behoorlik bontstaan om in die vraag te voorsien.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'