STILBAAI NUUS - Rudy Booysen, hoof van Absa se bedrogafdeling in Port Elizabeth het inligting ter voorkomig en bekamping van internet bankbedrog en slenters gelewer tydens die GPF (gemeenskapspolisiëringsforum) se algemene jaarvergadering.
Die vergadering is op 13 November in die gemeenskapsaal gehou en ongeveer 65 inwoners van Stilbaai, Jongensfontein, Melkhoutfontein en die omgewing het dit bygewoon. Persone het ook die geleentheid gehad om vrae te vra.
Kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder: Stilbaai-polisie het inwoners rondom misdaad en statistieke van misdaad die afgelope jaar ingelig, asook die belangrikheid van 'n gesonde vennootskap tussen die polisie, GPF, buurtwag, sub-forum en plaaswag. Hy het ook die geweldige uitdagings waarmee die polisie op 'n daaglikse basis mee gekonfronteer word, gedeel.
Justin Lottring, adjunk-direkteur: gemeenskapsveiligheid het die belangrikheid van 'n goed gestruktureerde GPF en hul doelwitte bespreek. Hy doen 'n beroep op organisasies om by die GPF as rolspelers in te skakel en die gemeenskap om by die buurtwag betrokke te raak.
Op hierdie wyse kan daar vanuit alle oorde, hande gevat en na oplossings vir misdaad gekyk word.
Die voorsitter, past. Jan Kleynhans het verslag oor werksaamhede van die GPF in die gemeenskap gelewer en die rolspelers vir hul onbaatsugtige bydrae bedank.
Hy doen 'n beroep op alle organisasies en lede om na vore te kom om betrokke te raak, ten einde Stilbaai en omgewing 'n steeds veilige en gesogte plek te maak.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'