RIVERSDAL NUUS - Van die bekendste skilders op die Hessequa-kunsroete stel ook dié naweek van hul kunswerke tydens die Inheems-tienerkunsprojek by die burgersentrum in dié dorp uit.
Linda Flecther, die volhoubaarheidsbestuurder, het ‘n aantal kunstenaars van die streek met die oog uitgekies om deel van dié fauna-en-flora-uitstalling te wees.
Die uitstalling heet: “The Inspired by Nature Art Collection."
Onder haar kuratorskap kan kunsliefhebbers uitsien na pragtige werke deur Jetske Fouché, Lezanne Kotze, Louis Kluyts, Louise Ynclan, Machdel Basson, Marilise Lombard, Nadine Hansen, Nakita Joubert, Rivkah van der Merwe en Zelda Truter.
Rivkah, ‘n 19-jarige tuisskoolstudent van Riversdal, is ook vanjaar ‘n finalis in die Inheems-tienerkunskompetisie met haar kunscollage “Creative Hessequa Medley." In dié uitbundige werk ontgin sy die streek se historiese kenmerke, spruitende uit die Khoi-kultuur.
Kunsliefhebbers kan op 23 en 24 Augustus na nagenoeg 150 kunswerke gaan kyk.
* 23 Aug: van 15:00 tot 20:00. Die wenners van die Inheems-tienerkunsprojek word by ‘n spesiale geleentheid sesuur die aand aangewys. Hulle ding mee om R20 000 se prysgeld - geborg deur die Gouritz-groepbiosfeerreservaat.
* 24 Aug: 09:00 tot 12:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’