Update
ALBERTINIA NUUS - Inbrekers het gedurende die nag van 9 en 10 April, tussen ongeveer 21:00 en 09:00 by 'n huis in Parkstraat, Albertinia ingebreek en twee kluise gesteel.
"Die inwoners was met vakansie en hul bure oorkant die straat het na hul huis omgesien. Toe sy die volgende oggend in die huis gaan, het sy onraad gemerk en agtergekom dat daar ingebreek is," het kapt Susan Botha, stasiebevelvoerder van Albertinia-polisie gesê.
In die stadium weet hulle net dat 'n .22-haelgeweer en 'n handwapen in die kluise was, omdat dit op die polisie se databasis is.
"Ons wil die gemeenskap vra om op die uitkyk vir hierdie items te wees en ons in kennis te stel indien dit te koop aangebied word," het Botha gevra. "Dit is 'n misdaad om gesteelde goedere te koop en persone wat hul daaraan skuldig maak, kan tronkstraf opgelê word."
'n Saak van huisbraak en diefstal is geopen. Enigiemand wat inligting kan verskaf, kan Albertinia-polisiestasie (028 735 8047) skakel. Alle inligting sal as vertroulik beskou word.
Vorige artikel: Inbrekers buit kluise, wapens
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'