Update
HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike polisie sit met hul hande in die hare met die toename in misdaad in die Heidelberg-streek. Veral inbrake en diefstal vier hoogty.
Kerke word ook nou deur diewe geteiken.
Die afgelope drie maande is daar by verskeie kerke ingebreek óf kerkpersele beskadig. Slangrivier loop ook deur.
Baie van die inbrake geskied tydens beurtkrag. Wat egter nou kommerwekkend is, is sedert daar presidensiële kwytskelding aan verskeie aangehoudenes toegestaan is, het veral inbrake en diefstal toegeneem.
Sedert Julie is daar verskeie kere by die Nuwe Apostoliese Kerk (NAK) in Slangrivier ingebreek. Dié inbrake het glo tussen Woensdag 12 en Sondag 15 Julie plaasgevind.
Daar is ook onlangs by die NG Kerk in die dorp asook by die NAK in die Oos-Dorp ingebreek en groot skade aangerig. By die NG Kerk is daar verskeie elektriese kabels, waterpype, krane en andere waardevolle items gesteel.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike mediabeampte, is daar by die onlangse inbraak van die NAK deur 'n syvenster toegang verkry. Die skade beloop etlike duisende rande waarvan die grootste skade aan die orrel is.
Samantha Esau (links) staan hier hoogs tevrede met die twee bobaasspeurders, speurkonstabel Lucelle Hector en speursersant Whitey Solomons wat met hul vernuftige speurwerk haar televisie opgespoor en die dief agter tralies laat beland het.
Daar is ook onlangs vir 'n tweede keer die afgelope vier maande by 'n huis in Newtonstraat ingebreek waartydens die dief 'n televisiestel asook die slagoffer se maandelikse kruideniersware van sowat R1 500 vasgelê het. Danksy flinke speurwerk deur speursersant Whitey Solomons en speurkonstabel Lucelle Hector is die televisie spoedig weer aan die eienaar terugbesorg.
Hendricks het weereens 'n ernstige waar-skuwing gerig aan inwoners, wat so maklik gesteelde goedere aankoop, dat daar baie streng teen die "winskopiejagters" opgetree sal word.
Dié winskopies skep groot probleme vir die polisie omdat dit 'n mark vir die skelms skep.
Hendricks het inwoners versoek om nie hul huise ongesluit of met oop vensters te laat nie. "Ons word oorval met klagtes waar dit duidelik is dat inwoners hul deure of vensters oopgelaat het terwyl hulle vinnig 'n draai gaan stap het. Die diewe het net 'n minuut of twee nodig om waardevolle items uit huise te buit."
Enige inligting wat sal lei tot die arrestasie en skuldigbevinding van diewe of kopers van gesteelde goedere sal hoogs vertroulik hanteer word.
Hendricks kan by 079 893 9930 of die dienssentrum by 10111 geskakel word.
Die gebreekte venster van die Nuwe Apostoliese Kerk waardeur vandaliste toegang tot die kerk verkry het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’