HESSEQUA NUUS - "Geen hondelisensies word voortaan afgedwing nie," verseker Albert de Klerk, munisipale bestuurder van Hessequa.
En jy sal gewis nie tjoekie toe gaan as jy versuim om op te dok nie.
De Klerk sê die munisipaliteit was effens onkant betrap met die gemeenskap se heftige teenreaksie.
Inwoners het kwaai gegrom oor die aankondiging dat inspeksies van 1 September van stapel gestuur sou word om diere-eienaars te verplig om die nodige lisensies te bekom.
Volgens daardie ongevoelige ordonnansie is diereliefhebbers tot slegs twee honde en vier katte per huishouding toegelaat en jy kon verplig word om van jou "oortollige" dierekinders ontslae te raak - selfs deur middel van genadedood.
Dit sou egter hartverskeurend en onmenslik wees as mense se enigste bron van samesyn en sekuriteit deur middel van wat ook al geskei moes word.
De Klerk meen die troeteldier-ordonnansie is misinterpreteer en het onnodige histerie ontketen.
Daar wás en daar is steeds boetes ter sprake vir rondloper- en wegdwaalhonde wat geskud word en by die skut in veilige aanhouding versorg word tot hulle deur hul eienaars opgeëis word.
Dit is egter onwaarskynlik dat die aanspreeklike eienaars tronkstraf opgelê kan word.
Daarom is die kwessie rakende hondelisensies op 18 September vanjaar met die raad bespreek en geslyp - én daaroor herbesin.
"Die raad het versoek dat die item na al die wykskomitees geneem word vir insette en kommentaar.
"Die wykskomiteevergade-rings het op 29 Oktober plaas-gevind.
"Ons wag tans op die aanbe-velings waarna daar weer met inwoners gekommunikeer sal word. Geen hondelisensies word tans afgedwing nie, alhoewel bewusmaking daaromtrent steeds voortgaan," sê De Klerk.
Suid-Kaap Forum wou weet hoeveel diereliefhebbers wel hondelisensies uitgeneem het ná daardie dreigemente, maar dié vraag is nie beantwoord nie.
Dit blyk egter dat die klem beduidend skuif na die monitering van onwettige teling, die opsporing van mishandeling, beveiliging en dringende ingryping om die algehele gesondheid en welstand van troeteldiere te beskerm.
Ongelukkig is Elvis die gemmerkat intussen oorlede en hy sal nie in die vreugdevrede van die Hessequa-munisipaliteit se besluit kan deel om diereliefhebbers nié van hul geliefdes te skei nie. Maar Seun blaf triomfantelik en tevrede. Foto: CJ de Swardt
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’