HESSEQUA NUUS - Het jy al ooit gedink wat jy kan doen om bye te beskerm?
In die proses om heuning te maak om hul kolonie te voed, help bye met bestuiwing van plante. In ses weke produseer sy net een teelepel heuning.
'n Gesonde korf huisves sowat 80 000 bye wat in 'n jaar 16 tot 20 kg heuning kan produseer. Korwe wat agter nektar aan geskuif word, kan tot 50 kg heuning produseer.
Maar bye het nog 'n belangriker taak: sonder hul rol as bestuiwers sou vrugte- en groenteboere nie veel sukses gehad het nie. Bye en ander bestuiwers is noodsaaklik vir die suksesvolle verbouing van sowat driekwart van alle landbou-gewasse en na raming is sowat 87 voedselprodukte soos vrugte, groente, neute, oliesade en bessies van bestuiwers afhanklik. Ander landbougewasse steun op wind- en selfbestuiwing.
Wat hou 'n bedreiging vir bye in?
'n Gebrek aan voeding wat veroorsaak word deur verlies aan die bye se habitat, is die grootste bedreiging.
Klimaatsverandering lei daartoe dat die plante en bye se lewenspatrone nie meer ooreenkom nie, wat daartoe kan lei dat voedselkettings vernietig word.
Dit lei ook tot oorstromings, asook droogtes wat veldbrande soveel erger maak en dodelik vir bye is.
Siektes, soos Amerikaanse jongbysiekte, wat deur besmette heuning uit China in die Wes-Kaap aangekom het, is gelukkig steeds tot die provinsie beperk.
Onoordeelkundige gebruik van chemiese plaag- en onkruiddoders maak ook die bye dood.
Wat kan jy doen om te help om bye te bewaar?
Vermy chemiese plaagdoders en gebruik eerder organiese middels. Boere wat boorde of gewasse met onkruiddoder bespuit, moet seker maak dat dit op 'n windstil dag gedoen word.
As daar korwe naby die boorde of landerye - soos kanolalande - staan, moet die byeboer vooraf ingelig word sodat hy sy korwe betyds kan verwyder.
Blomme met helder kleure en 'n sterk geur lok bye na jou tuin.
Moenie onkruid voor die voet uittrek nie - sommige van hulle blom wanneer die bye se ander kos op is.
Koop plaaslike heuning en maak seker dis suiwer. Goedkoop heuning is dikwels 'n swak plaasvervanger.
Laat byeswerms met rus of laat kom iemand wat weet hoe om 'n swerm te verwyder.
Die korf word berook sodat die heuning uitgehaal kan word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'