RIVERSDAL NUUS - Die NG Moedergemeente Riversdal nooi die hele gemeenskap uit om saam met hulle ’n besondere mylpaal te vier wanneer die historiese kerkgebou op Sondag 1 Junie om 09:30 heropen na grootskaalse opknappingswerk gedoen is.
Die gemeente, wat in 1838 gestig is, het oor byna twee eeue ’n standhoudende rol in die geloofs- en gemeenskapslewe van Riversdal gespeel.
Die eerste kerkgebou is in 1845 opgerig op dieselfde erf waar die huidige kerkgebou - in 1909 ingewy - vandag steeds staan.
Hierdie gebou is nie net ’n herkenbare baken in die dorp nie, maar ook ’n plek van aanbidding, troos en saamwees.
In die afgelope drie maande is die gebou binne en buite oorgeverf, die kerkterrein is opgeknap, en selfs die kantoorkompleks het ’n nuwe baadjie gekry.
Ook die simboliese “muur van herinnering” is met sorg herstel.
Volgens die kerkraad is die projek met groot dankbaarheid voltooi, en getuig dit van God se voorsiening en die gemeenskap se ondersteuning.
“Ons sien hierdie heropening as ’n tyd van terugkyk met dankbaarheid na die verlede, maar ook van hoop vir die toekoms,” sê ds. André Jordaan.
Die heropeningsdiens sal op die kerkperseel in Kerkstraat plaasvind.
Na afloop van die diens word alle gaste uitgenooi om saam tee te drink en verder te kuier.
Die gemeente rig ’n uitnodiging aan alle inwoners van Riversdal - jonk en oud, lidmate en nie-lidmate - om deel te wees van hierdie feestelike en betekenisvolle geleentheid.
NG Moedergemeente Riversdal nooi die hele gemeenskap uit na die heropening.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’