HESSEQUA NUUS - Die polisie in Hessequa sluimer of slaap nie. Trouens, as mens lees deur die misdaadsyfers wat verlede Vrydag, 17 Februarie, deur Bheki Cele, minister van polisie, bekendgemaak is, vertel dit 'n verhaal van 'n toegewyde span polisiemanne en -vroue wat dag en nag in dorpe soos Riversdal, Stilbaai, Albertinia en Heidelberg spook om misdaad doeltreffend te bekamp.
Die misdaadstatistiek strek van Oktober tot Desember 2022 en word vergelyk met dieselfde kwartaalsyfers van 2021.
Die algehele nasionale prentjie is 'n bitter en sorgwekkende refrein.
Ondanks jare se politieke beloftes om die polisie se hande te versterk en misdaad hok te slaan, dui die syfers op 'n al groter wordende krisis.
Asof die probleme met Eskom en kragonderbrekings nie genoeg is om vuisvoos Suid-Afrikaners verder in die modder te trap nie.
Nasionale syfers oor geweldsmisdaad, moorde en die verkragting van vroue en kinders is 'n misdaadnagmerrie.
Maar plaaslik skets die syfers 'n positiewe prentjie van die polisie se stryd teen misdaad en het Hessequa se inwoners nog rede om veilig te voel.
Seker die positiefste syfers is dié van misdaad wat opgespoor is as 'n gevolg van pro-aktiewe polisieoptrede soos aktiewe polisiëring, padblokkades en klopjagte. Die meeste hiervan was vir misdade wat verband hou met die onwettige besit van vuurwapens, seksuele, dwelm- en drankverwante oortredings.
'n Toename in dié syfers is beslis positief en dui daarop dat die polisie pro-aktief optree en sukses behaal.
In Riversdal het dit met 89,7 % gestyg en het dwelmverwante sake met 18 gevalle toegeneem (op van 23 na 41). Bestuur onder die invloed is op met 8 sake (van 6 na 14).
In Stilbaai het die syfer met 211,1% gestyg en is dwelmverwante sake 37 meer (op van 15 na 52). Bestuur onder die invloed is op met een saak.
In Albertinia het dwelmverwante sake gestyg met 26 (op van 38 na 64), maar in Heidelberg was daar 'n afname van 13,6% met dwelmverwante sake met ses minder gevalle (af van 4 na 38). Tog het mense wat onder die invloed van dwelms of drank in Heidelberg bestuur het, met 100,6% toegeneem (op van 4 na 8 sake). In Albertinia is die syfer af van vier na slegs een geval.
Kontakmisdaad, wat moorde, poging tot moord, rooftogte, motorkapings, bankrooftogte insluit, sowel as inbrake by besighede en huise, het feitlik geen impak gehad nie met slegs enkele individuele gevalle wat aangemeld is.
Effens kommerwekkend is dat gewone aanrandings 'n styging getoon het met Stilbaai op van 13 na 16 gevalle, Heidelberg agt meer gevalle (op van 56 na 64), Albertinia op met twee gevalle (19 na 21), terwyl Riversdal 'n daling met agt sake aangeteken het (af van 36 na 28).
Misdadigers en rampokkers moet maar lig loop in Hessequa.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'