RIVERSDAL NUUS - Helpende Hand Riversdal het Donderdag 28 November, ná 'n jaar van harde werk en vele projekte, hul jaarlikse afsluiting gehad.
Helpende Hand Riversdal het in 2024 verskeie projekte aangepak wat die lewens van talle mense en organisasies aangeraak en verbeter het.
• Die jaarlikse skooltassieprojek waarby volledige skooltassies aan behoeftige gr.1's gegee word sodat hulle op gelyke voet saam met hul gr. 1-maatjies skool kan aanpak.
• Riversdal-polisie se traumakamer het dringend aandag nodig gehad, daarom het dié tak ingespring en die vertrek oorgedoen. Dit lyk nou pragtig met 'n rustige atmosfeer in kalm kleure en dekor. Verf is deur Suid-Kaap Verf geskenk.
• Small Dreams Skool se muur en speeltoerusting is ook deur die taklede saam met Leef Jeug geverf. Verf geskenk deur Jacks Paint en Snyman-boumateriale.
• Op Melktertdag is melkterte geskenk aan Goukam Health APD.
• Naaldwerkprojek waarby borslappe en wasgoedsakke deur taklede gemaak is en aan Droom geskenk is.
• Moedertaaldag - Daar is elke maand in Afrikaans aan die inwoners van Huis Jan Lange voorgelees.
• Op Werkersdag is eetgoed uitgedeel aan die versorgers by Huis Wallace Anderson en Goukam Health APD omrede hulle op Werkersdag op hul poste was.
• Sopverkoping is by Ons Winkel gehou vir takfondsinsameling.
• Mensehandelpraatjie by Hoërskool Langenhoven is gereël en die bewusmaking van die euwel het 'n groot impak op die leerlinge gehad. Daar is ook toiletware, wat deur die tak ingesamel is, aan behoeftige leerlinge oorhandig.
• Besigheidsfunksie is gereël met advokaat Gerrie Nel en Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand.
• Koekies is gebak en geskenk aan Huis Wallace Anderson vir hul jaarlikse kermis.
Kontak vir Anna-Marie Hughes by 083 704 9917 indien jy belangstel om deel te word van die plaaslike Helpende Hand-tak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’