RIVERSDAL NUUS - Sandra Lotz van Cars wil die harte van die gemeenskap aanraak met haar nuwe veldtog, Warm Hessequa Animals, wat daarop gemik is om honde in nood van warmte en veiligheid gedurende die koue wintermaande te voorsien.
Met dié projek doen sy ’n beroep op inwoners en besighede om ’n hondehok - of selfs net ’n deel van een - teen ’n koste van R660 te borg.
Die hokke word teen ’n spesiale afslagprys vanaf Kaapstad bekom, wat dit moontlik maak om meer diere te help.
Die veldtog fokus daarop om huise in die streek te identifiseer waar honde versorg word, maar nie toegang tot geskikte skuiling het nie.
Die betrokke gesinne sal van ’n hondehok voorsien word, sodat hulpbehoewende diere in ’n beskermde omgewing gehuisves kan word.
“Ons diere verdien warmte, liefde en beskerming - veral in hierdie koue maande,” sê Lotz.
“Met die hulp van die gemeenskap kan ons letterlik ’n dak oor ’n dier se kop plaas.”
Sy nooi enige persoon wat betrokke wil raak, om ’n bydrae te maak - hetsy vir ’n hele hondehok of ’n deel daarvan.
Elke bietjie help om ’n verskil te maak in die lewens van diere in nood.
Vir meer inligting of om ’n hondehok te borg, kan belangstellendes Sandra direk kontak by 082 962 1831.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’