HEIDELBERG NUUS - Dis weer skoutyd in Heidelberg! En die dorp is behoorlik in rep en roer.
Die Heidelberg-landbouskou is ongetwyfeld een van die uitstaande hoogtepunte in dié dorp se kalenderjaar en bied iets vir oud en jonk.
Hoewel die skou nie-amptelik op 12 Februarie afgeskop het, het dit op Donderdag 13 Februarie in alle erns sy deure met verskeie aktiwiteite oopgegooi.
So van 14:00 af kom die perde in die hoofarena aan die beurt, maar natuurlik 'n hoogtepunt waarna almal uitsien is die massa-aflos deur skole wat van 16:00 tot 17:00 aangebied word. Om die kleintjies in aksie te sien, is elke jaar 'n belewenis.
Die toutrekkompetisie behoort ook heelwat belangstelling gaande te maak en vind van 17:30 tot 19:00 plaas.
Giggy van Gateway Radio sal in die hoofarena uitsaai.
En die steakhouse is oop van 18:00 en 24:00 vir heerlike braaigeregte.
Vrydag wag daar ook 'n vol program wat reeds om 06:45 afskop met die inweeg van die Merino-veldstoet en kuddekompetisie.
Die toegansgeld vir volwassenes per dag is R30 en vir kinders tussen 6 en 18 jaar is R5 per dag. 'n Voertuigkaartjie sal jou R10 per dag uit die sak jaag en vir 'n weekstoegang, slegs vir volwassenes, sal jy R50 moet opdok.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’