HEIDELBERG NUUS - Een van dié dorp se mees bekendste inwoners, die immergroen Helene Hendricks, oftewel “Ant Kandas’ soos sy alombekend is, het Sondag 2 Februarie haar 80ste verjaarsdag gevier.
Die spesiale mylpaal het sy met vier van haar oorblywende vyf kinders, ander familielede, vriende, bure en haar geestelike leier, past. Martin Meyer, aan huis gevier.
Ant Kandas, ’n ma van twee dogters en vier seuns - waarvan die oudste oorlede is - is ook ouma van 16 kleinkinders en oumagrootjie van 15 agterkleinkinders. Haar eggenoot van 56 jaar, Samuel het haar vier jaar gelede ontval.
Ant Kandas was ook ’n bekende stem op die plaaslike streekradio, Eden FM, waar sy gereeld ingebel en mense bemoedig het met haar ywer en passie vir die lewe.
Sy is ook ’n baie gelowige vrou wat ’n getroue en lojale lid is van die plaaslike AGS Kerk.
Sy geniet nog redelike goeie gesondheid, met die uitsondering van haar bene wat nie meer toelaat dat sy meer so beweeglik is soos voorheen nie. Sy aanvaar nog wel uitnodigings vir uitstappies, veral besoeke na familie en vriende buite die dorp.
Nodeloos om te noem, sy was en is nog steeds een van die plaaslike rugbyklub en die Young Royal Shepherds Kersfeeskoor se grootste ondersteuners.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’