HEIDELBERG NUUS - ’n Bejaarde man van Heidelberg het Vrydag 1 November al sy besittings in ’n oogwink verloor toe sy woning deur vlamme in puin gelê het.
Die slagoffer, Peter Sauls (58) van Dollar Square, was nie tuis toe die struktuur vlam gevat het nie.
Volgens 'n geskokte Sauls was hy nie baie ver van die huis nie toe hy die nuus kry dat sy woning deur verswelgende vlamme verwoes word. “Ek het huis toe gehaas, maar kon niks red nie. Gelukkig dra ek my identiteitsboekie daagliks saam met my anders sou ek ook dit in die brand verloor het."
Met Suid-Kaap Forum se aankoms op die toneel was die brandweerpersoneel besig om die perseel te verlaat en was Sauls met die wyksraadslid, Abe Daniels, en sy assistent, Nathan Ruiters, in gesprek. Beide was besig met huisbesoeke en het hulle na die toneel gehaas toe hulle van die brand verneem het.
Die oorsaak van die brand is nie bekend nie.
Daar word ’n dringende versoek om hulp gerig om Sauls te ondersteun aangesien hy werkloos is en alles in die brand verloor het.
Diegene wat kan help kan met sy susters Catherine Hartnick by 061 538 3074 of Rosie Tieties by 078 076 5550 skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’