Update
HEIDELBERG NUUS - 'n 48-Jarige man het Maandag, 27 Julie vlugtig in Heidelberg-landdroshof op aanklag van poging tot moord, asook besit van mandraxpille, verskyn.
Die verdagte het na bewering 'n plaaslike polisielid aangerand deur petrol van agter af op hom te gooi en aan die brand te steek.
Die slagoffer (54) was op 'n voetpad deur die ou begraafplaas in die Oos-Dorp op pad werk toe, toe hy deur die verdagte aangeval was. Hy kon gelukkig wegkom en het daarin geslaag om van sy klere ontslae te raak terwyl hy gevlug het. Hy het nie ernstige brandwonde opgedoen nie.
Volgens 'n inwoner wat oorkant die begraafplaas woon, was hy in die kombuis toe hy ongeveer 06:30 iemand om hulp hoor skree het. "Ek het by die venster uitgekyk en 'n persoon gesien verbyhardloop. Daar het iets wat gebrand het, in die straat gelê." Hy vertel verder dat hy gesien het hoe die slagoffer na 'n huis net bokant hulle hardloop om hulp te kry.
Volgens ao Alroy Windvogel, plaaslike kommunikasiebeampte is die verdagte nog dieselfde dag gearresteer. Die saak is tot Maandag, 3 Augustus vir verdere ondersoek uitgestel. Hy bly in aanhouding.
• 'n 29-Jarige man het Maandag, 27 Julie in Heidelberg-landdroshof op aanklag van gesinsgeweld, twee huisbraakklagtes, asook twee aanrandingsklagtes verskyn.
Laasgenoemde klagtes is onderskeidelik aanranding gewoon en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die sake is tot Maandag, 3 Augustus uitgestel. Hy bly in aanhouding.
Vorige artikel: Poging tot moord-saak uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'