HEIDELBERG NUUS - “Die fees was ‘n groot finansiële inspuiting vir die dorp!” beaam die feesbestuurder Niël Rademan, ná afloop van die sewende Hessequa Harmoniekunstefees.
Hy wys uit dat, danksy kruisbestuifbemarking, gastehuise vol bespreek was en dat talle restaurants uitstekend deur feesgangers ondersteun is.
“Ons probeer om almal te motiveer om dié feestyd te benut en elke onderneming oneindige geleenthede te bied.”
Tussendeur al die kuns, vermaak, kultuur en hogere letterkunde moet daar darem ook ‘n ietsie te ete en drinke geniet word!
Niël sê hy het juis vanjaar die kompakter program só geskeduleer dat feesgangers voor, tussen en ná vertonings tyd kon inruim om by dorp se talle eet- en kuierplekke te ontspan en met pret en plesier heerlike spys en drank te geniet.
Die keuses was legio. Daar was spys en drank by die Heidelberg-hotel, Proeviand, Délish, Inspired, Die Rooi Pot, Pizza World, Copper Blue, Wimpy, Blue Crane, Die Skeerhok-padstal, Spensjolyt en by die NG Kerk-kermistent (wat weens die gure weer, sukesvol, binnenshuis verskuif is.)
Petro de Beer, die bestuurder by die Heidelberg-hotel, is oorstelp van vreugde. Sy was orals: van die voorportaal, ontvangs, trappe op en af om gaste se bagasie te karwei, in die kombuis om etes help voor te berei, in die restaurant om gaste te verwelkom, draffende in die gange om linne en handdoeke uit te deel, die verversingruimte aan te vul en om drankies in die kroeg te bedien.
“Ons was bedrywig! Al die kamers is bespreek, kunstenaars en feesgangers het ons spyskaart dag na dag kom geniet en die kroeg het gebewe!”
Die feesgaste het reeds tentafief hul kamers vir aanstaande jaar aangevra. En toe aanstaande jaar se feesdatums - 16 tot 20 September - bekend gemaak is, het álmal hul besprekings bevestig. “Ons is reeds omtrent vol bespreek.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’