HEIDELBERG NUUS - Na die drie weke breek van hul SWDRU Superliga A ligaverpligtinge, wat dan ook ’n ietwat teleurstellende Ebrahim Patel Community Cup (EPCC) Paasnaweektoernooi in George ingesluit het, is dié dorp se spogproduk, Heibi-rugbyklub, reg om wraak te neem teen Evergreens-rugbyklub.
Die wegwedstryd, wat die eerste van twee taai agtereenvolgende wegwedstryde is, is teen die 2025 verdedigende Superliga Top-8-kampioene van Pacaltsdorp.
Heibi wat ’n paar kernspelers aan ander klubs en uittrede afgestaan het, is vasberade om die bordjies te verhang vir hul naelskraapse verloor van 20 - 19.
Dit nadat Heibi rustyd gerieflik met 16 - 7 voor was in die senutergende, dog aksiebelaaide eindstryd.
Alhoewel die span nie so goed by die EPCC gevaar het nie, is die afrigterskorps tog vol vertroue dat die span Saterdag op alle ratte sal funksioneer en weer hul wenrugbyresep sal voortbring.
Veral nadat die samesyn van die Paasnaweek ook as ’n goeie spanbousessie beskou kan word.
Heibi behoort ’n volle sterkte 23 tal onder die leierskap van hul vlugvoetige, dog, sterk kaptein en senter, Jason Liebenberg, op die veld te stuur.
Daarmee gepaard, behoort die fanatiese onderskraging van hul lojale ondersteuners hulle die nodige motivering en woema te gee om as oorwinnaars uit die taai stryd te stap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’