STILBAAI NUUS - Die Tuinroete Distriksmunisipaliteit het Donderdagoggend 13 Februarie bekendgemaak dat die brand by Hectorskraal naby Stilbaai 85% geblus is.
Op 'n stadium was daar 'n paar huise wat in die pad van die vuur was, maar twee helikopters en 'n vliegtuig het onverpoos gewerk om te verhoed dat hulle afbrand.
Op die grond is brandspanne van Tuinroete Distriksmunisipaliteit, Hessequa Munisipaliteit en Werk vir Vuur besig om dag en nag die brande te bestry en hulle groot taak is nou om seker te maak dat alle smeulkolle doodgemaak word.
Die boere van die omgewing het ook saam met die spanne gewoel en heelwat brandbane gemaak met hulle trekkers.
Andrew Stroebel, burgemeester van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, het dan ook sy dank uitgespreek aan elkeen van die dapper brandweermanne en -vroue en ander rolspelers wat tot dusver bygedra het om inwoners, huise en plaasdiere veilig te hou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’