HEIDELBERG NUUS - Verskeie geliefde en bekende inwoners van Heidelberg is die afgelope maand te ruste gelê.
Vader Efraim Philander (75)
Vader Philander, wat hom as jongman in die laat 60's hier kom vestig het en as kategeet onder wyle vader Maurice Brunsden by St Barnabas Anglikaanse Kerk gedien het, het Woensdag, 8 September aan huis gesterf.
Sy roudiens het Saterdag, 25 September plaasgevind.
Hy het na 10 jaar diens as rektor 'n paar jaar gelede uit die bediening getree.
Philander se roudiens is deur sy kollegas, eerw Russell Claassen van Riversdal en eerw Eben Pretorius van Mosselbaai waargeneem. Hy is vroeër veras.
Hy laat sy vrou Avril, twee dogters, een seun en sewe kleinkinders agter.
Die Noudt-, May-, Buys- en September-families
Die dorp en veral De Waalville Primêre Skool is ook erg met die afsterwe van Charlotte Buys (70) getref, wat op Donderdag, 9 September na ’n kort siekbed gesterf het. Sy is Saterdag, 18 September vanuit die Nuwe Apostoliese Kerk ter ruste gelê.
Marsha September, vrou van konstabel Carlet September het in Augustus na ’n kort siekbed gesterf. Sy was die jongste dogter van Hannes Buys.
Clara May (74) sterf op Woensdag, 11 September na ‘n kort siekbed en word ook Saterdag, 18 September ter ruste gelê. Sy laat haar vier seuns, 11 kleinkinders en drie agterkleinkinders agter.
Asof dit nie genoeg hartseer vir dié families is nie, verloor hulle ook vir Liesel Noudt (49) op dieselfde dag (18 September) wat haar skoonma, Clara May begrawe word. Liesel, vrou van May se oudste seun Edwin, is die ouer suster van Marsha September. Liesel is Saterdag, 25 September te ruste gelê. Buiten haar eggenoot laat sy haar seun, Leland en dogter, Keasha agter.
Wyle Liesel Noudt. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'