HEIDELBERG NUUS - Is jy al in Heidelberg vir die sewende Hessequa-harmoniefees?
Daar’s darem nog tyd om jou lyf hier te kry! Jy het weliswaar vanoggend se afskopproduksie, Boerebrekfis - met 'n plaasontybyt en boeretroos saam met die bekroonde TV-aanbieder Kabous Meiring en Samantha van den Berg, die Landbou Burger se redakteur, by die Skeerhokpadstal misgeloop.
Dit was uitverkoop. Hulle het gesels oor hoe om die platteland te laat floreer.
En dit lyk of dié fees inderdaad floreer - sedert die klein begin sewe jaar gelede met slegs vier produksies. Vanjaar spog die program met bykans 25 aanbiedinge - van musiek en toneel tot letterkunde, kuns en leefstylverrassings.
En vanaand word daar om seweuur in die stadsaal rondom 'n langtafel swierig partytjie gehou.
Die Cape Town Tango Ensemble - Stanislav Angelov (akkordeon), Dan Shout (saksofoon), Sibusiso Matsimela (kontrabas) en Albert Combrink (klavier) - gaan die klankbaan verskaf met tango-, wals- en polkamusiek.
Daarby word 'n feesmaal en 'n komplimentêre glas Van Loveren-wyn bedien.
Niël Rademan en Lynelle Kenned sal die gaste verwelkom.
Vanaand vier die klein fees met die groot hart polsende wêreldmusiekritmes, smulgeregte en heerlike wyn!
Die fees duur tot 21 September.
* Kyk na die volledige program vir Hessequa-Harmonie (17 tot 21 September) by www.hessequaharmonie.co.za of kontak Lindi-Heila Smit by lindi.heila@gmail.com / 084 446 3200 om die program via e-pos of WhatsApp te ontvang.
Kaartjies is aanlyn by webtickets.co.za en by Karee Tree in Heidelberg beskikbaar.
Aanwysings kan hier gevind word: https://bit.ly/4esjEya
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’