HEIDELBERG NUUS - Jul-Mir Geldenhuys, dogter van wyle Mirvan en Julie-Ann wat albei in die onderwys was, het duidelik hul passie en toegewydheid geërf.
Jul-Mir, wat lewensoriëntering by Kairos Senior Sekondêre Skool op Heidelberg aanbied, is tot vakadviseur vir LO in senior en verdere onderwysontwikkeling (VOO) bevorder.
Sy begin vanjaar in die Eden-Sentraal Karoo onderwysdistrik in George as basis, wat vanaf Heidelberg tot by Murraysburg aan die Oos-Kaap strek.
Sy het in 2004 aan Gerrit du Plessis Senior Sekondêre Skool matrikuleer, waarna sy in 2009 haar aan die Noordwes Universiteit, Potchefstroom-kampus as onderwyser bekwaam het. In 2010 begin sy haar onderwysloopbaan by haar alma mater vir drie maande.
In April 2010 begin sy by Kairos, waar sy haar volkome in haar roeping uitleef.
Die prinsipaal, Vivian Prins wens haar alle voorspoed met haar aanstelling toe, maar voeg by dat dit ’n groot verlies vir die skool is.
“Sy was vir 11 jaar aan ons skool verbonde. Haar goeie werk is opgemerk, daarom het sy hierdie bevordering gekry,” het hy benadruk.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'