HESSEQUA NUUS - Hannelie van Wyk, wat in Riversdal gebore en getoë is, sê in 'n onderhoud met Suid-Kaap Forum Suid-Afrika is ryk aan sy kultuurerfenis, maar die land dra nog steeds die letsels van apartheid.
"Misdaad en armoede is die tragiese werklikheid vir baie mense in Suid-Afrika. Ekself het amper my lewe verloor en ek wou vir my kind 'n beter, veiliger toekoms gee. Juis daarom het ek Suid-Afrika verlaat en my droom in Malta gevind.
"Ek wil jong vroue bemagtig en hulle laat besef dat hulle ook 'n stem het en dat wat hulle ook al doen saakmaak en dat 'n beter lewe op hulle wag."
Hannelie vertel van haar grootwordjare. Ná haar geboorte in Riversdal, het sy haar kinderjare op 'n plaas in Van Wyksdorp deurgebring tot ouderdom 12.
"Toe het my pa sy plaas verkoop en in Riversdal verskeie besighede gehad. Hy het, onder andere, Algin Juices begin, wat vandag Era Juices is.
"My ma is ook in Riversdal gebore en is 'n oud-Das. Op laerskool was ek by Volschenk en toe natuurlik na Hoërskool Langenhoven waar ek in 1995 gematrikuleer het.
"Koor, drama en biologie was my gunstelingvakke. Juffrou Vosloo was baie streng, maar ek was baie lief vir haar. En mnr. Jansen was die snaaksste. Ek mis al my skoolvriende ongelooflik baie, maar ek is nog in kontak met baie van hulle.
"Ek mis Riversdal en sy mense en probeer Suid-Afrika een keer per jaar besoek. Ek beplan juis 'n besoek in Januarie."
Sy het haar pa verlede jaar aan kanker verloor, maar haar moeder, twee susters en 'n broer bly nog in SA.
Hannelie sê sy het in 1995 haar eerste skoonheidskompetisie gewen - Mej. Struisbaai net na sy matriek voltooi het. Daarna was sy Mej. Dagbreek op Stellenbosch en ook Mej. Patatfees op Napier. Sy was ook Riversdal se skoukoningin en het in die top-50 vir Mej. Tiener Suid-Afrika geëindig.
Haar volgende mikpunt is Mev. Globe wat in Junie 2023 in Kalifornië plaasvind. "Dis die grootste kompetisie vir getroude vroue en ek sien daarna uit om Suid-Afrika se deelnemers te ontmoet."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'